Herlewing is God se werk
Herlewing is gebeure wat God deur die werking van die Heilige Gees skep op grond van wat Jesus klaar gedoen het en nog steeds doen. Hierdie is ’n kernwaarheid wat ons eers moet besef voordat ons kan glo aan herlewing en ons daarvoor kan beywer.
Ons beginjare in Sinoville
Hierdie artikel is gebaseer op my en Annakie se ervaring in die AGS Sinoville-gemeente in Pretoria gedurende die jare 1972 tot 1975.
Miskien moet ek nie praat van herlewing nie, omdat ons nie vir ’n herlewing gebid het nie en dit ook nooit eens ’n herlewing genoem het nie. En tog, as ek vandag terugdink, moet ek sê dat ek niks meer sou wou hê alvorens ek dit ’n herlewing, of ’n herlewing in wording sal noem nie. Ons het baie by die Here geleer en ek vertrou dat dit in hierdie artikel na vore sal kom.
Hierdie stories kom uit die boek “Gewone Mense: om nuut te dink oor herlewing”. Jy kan dit gratis aflaai by https://www.ats.ac.za/gewone-mense/.
These stories are also available in English.
Luister na die artikel soos gelees deur prof Jan Hattingh.
Sinoville was ons eerste gemeente en ons was boonop hierdie nuwe gemeente se eerste pastoorspaar. Die AGS beleid was dat groot gemeentes moes afstig om sodoende nuwe groei in die AGS te skep. Die afstigting waarby ons betrokke was, moes vanaf Gezina-gemeente plaasvind.
Gezina-gemeente was nie hiervoor te vinde nie. Die AGS het toe besluit om ’n nuwe gemeente te stig in ‘n nuwe woonbuurt noord van die Magaliesberg. Die reëling was dat alle AGS-lidmate wat in die omgewing van Sinoville woon in die Sinoville-gemeente moet aanbid.
Hierdie besluit is nie afgedwing nie en die Sinoville-gemeente wat in dokter Buitendag se spreekkamer begin het, het ’n 1,000 vk meter-erf vir ’n toekomstige kerkgebou van die AGS Streeksraad ontvang. Die nuwe gemeente moes grotendeels die AGS-lidmate wat noord van die berg gewoon het, self werf. Die lidmate het uit verskillende gemeentes gekom en was nie ’n homogene groep nie. Sommige was ook nie gereelde kerkgangers nie. Die nuwe gemeente het by baie mense nuwe verwagtinge en ook nuwe toewyding gebring.
Tydens ons verwelkoming deur die vise-voorsitter van die gemeente, professor Jasper van der Westhuizen, het hy gesê dat die gemeente ’n pastoor soek wat hulle getrou deur die Woord van God moet lei. Miskien het ek hom in my toespraak probeer antwoord dat ek graag deel van ’n Pinkster gemeente wil wees wat op die lees van die Handelinge-Gemeente geskoei is. My droom was ’n gemeente waar mense vol van die Heilige Gees is, en waar die krag van God kennelik werk en mense tot bekering kom. Ek het hierdie ideaal so afgedwing dat van ons lidmate by tye soos ’n donkie by ’n waterbak vasgeskop het.
Ons Swaarkry
Dokter Buitendag se spreekkamer op die kleinhoewe was nie ’n geskikte plek vir kerkhou nie. Ek was nog besig met nagraadse studies wat baie tyd geverg het. Vyfuur soggens het ek stad toe gegaan om siekes in hospitale te besoek. Ek wou voor die ingaande verkeer huiswaarts keer. Sommige dae moes ek na Unisa gaan om klasse in Hebreeus, Grieks en Latyns by te woon en later ook verdere B.D.-studies (Baccalaureus Divinitatis) by Unisa. Ek het baie hard daaraan gewerk om nie die gemeente deur my studies te benadeel nie.
By verskeie kere het ek die hele dorpsgebied van deur tot deur aangedoen om uitnodigingspamflette uit te deel. Ek het later presies geweet hoeveel huise daar in Sinoville, Annlin en in die nuwe gebied, in aanbou was.
Ons het meer as een tentveldtog gehou. Voor die laaste tentveldtog het ek eers rondgevra waar ek die mees suksesvolle tentprediker sou kon kry. Op advies het ek die ‘regte man’ gekry omdat sukses vir my belangrik was. Tydens die veldtog het ek een belangstellende gekry, maar niemand wat ’n oorgawe aan God gemaak het nie.
Twyfel of Sinoville-gemeente ooit op dié wyse sou groei het stadig by my begin posvat.
Dit was toe, nadat sommige se aanvanklike entoesiasme begin kwyn het en die helfte van die 15 kerkraadslede wou bedank of wegtrek, dat ons kommer toegeneem het. Gerugte is deur van my kollegas in die stad versprei dat Jan Hattingh die gemeente misbruik om te studeer en dat hy hulle nie versorg nie.
Hierdie ervarings het die Here gebruik om met ons te praat.
Hoe die Here ‘n herlewing begin het
Ek het een oggend vroeg op die klipvloer van my studeerkamer gelê en met die Here gepraat oor alles wat in ons gemeente aan die gang was. Na ’n lang worsteling met die Here, het ek vir Hom gesê: “Ek gaan voortaan net doen wat U vir my deur die Heilge Gees sê om te doen. Ek gaan aanneem dat U deur die Heilige Gees met my sal praat en presies dit wat U sê, sal ek doen.” Ek het besef dat as ek die besluit wil uitvoer, ek konstant met Hom moes kommunikeer.
Wat hier volg is my en Annakie se reis met God, soos ek van die gebeure onthou:
1 Marianne
Vroeg een oggend was ek op pad na Wonderboom-lughawe om ’n Kapelaansperiode waar te neem. Dit het by my gebruiklik geword om voortdurend met God in gesprek te gaan en om Hom die geleentheid te bied om met my te praat. Ek het gesprekke met Hom begin na aanleiding van ‘n begeerte wat ek ervaar het, met die veronderstelling dat hierdie begeerte deur die Heilige Gees gewerk word. Ek het die oggend gevra: “Laat iemand wat in die Heilige Gees gedoop wil word asseblief skakel en dan doop U die persoon in die Gees”.
By my terugkeer het Annakie vertel dat Marianne (’n NG Kerk-dame) geskakel het en gesê het dat sy die nag gedroom het hoe sy met die Gees gedoop word en in tale praat. Ek het vir Annakie gesê dat dit juis was wat ek van God gebid het. Sy het na Marianne toe gegaan en Marianne is daardie dag in die Heilige Gees gedoop.
2 Die onderwyseres, Johnny en sy mense
Ek was aan huis van ’n onderwyseres wat oor hulle huwelik gesels het. Terwyl ek na haar luister het ek vir die Here gesê: “Dit is nie reg dat ek baie mense in my omgewing met hulle probleme help, maar hulle aanbid nie in my gemeente nie”. Dit was toe dat die Here vir my vra: “Werk jy vir My of werk jy vir die AGS?” Ek het dadelik geantwoord: “Here ek werk vir U”. Sy antwoord was: “Ek weet wat jy nodig het, as jy vir My werk sal Ek vir jou sorg”. Op daardie oomblik het die dame ophou praat en vir my gesê: “Dit is nie reg dat ons jou altyd pla en ons aanbid nie by jou gemeente nie”. Ek het haar geantwoord soos ek die Here geantwoord het: “Alles reg, ek werk nie vir die AGS nie, ek werk vir die Here”. Ek het haar nooit vir my gemeente probeer werf nie en sy het ook nooit by ons aanbid nie. God se belofte aan my was heilig en ek wou dit in sy hand los. Ek het daardie aand geleer wat vir God belangrik is.
Dit was Woensdagaand en ek het die res van die week geloop en wonder; hoe gaan God vir my sorg, ek sal dit graag wou sien.
By die volgende Sondagoggenddiens het Johnny, Paula en hul kinders langs die paadjie in die middel van die kerk gesit. Na afloop van die diens het ek my aan hulle gaan voorstel. Johnny wou weet of ons ’n koor in die gemeente het, omdat hy in Pretoria se stadsmannekoor gesing het en graag weer wou koorsing. Ek was oortuig dat hulle AGS-lidmate was, want hy wou aansluit en in die koor sing. Dit was egter NG Kerk-mense wie se kerk net om die draai van ons gemeente was, wat die oggend net besluit het om by ons in te draai, want: “Waarom sal ons verder ry?” Daardie selfde Sondagaand het Johnny en Paula hulle harte aan die Here gegee en hy het later ook die hoof van ons Sondagskool geword.
3 Jurgens en Estelle
George, ’n lid van ons gemeenteraad, was ’n onderwyser wat ook sy eie taksidermie besigheid bedryf het en gereeld in die ‘Mylpaal’ artikels oor bome geskryf het. Mense het hom soms George-bome genoem. George het vir dokter Jurgens, sy vrou en gesin saam kerk toe gebring. Jurgens was in ’n sin geniaal. Hy was elders ’n hospitaal superintendent en ook ’n valskermspringer, stralerloods en grootwildjagter. Van die Here het hy min geweet. Hy en sy vrou het albei hulle harte aan die Here gegee. Hulle was in vervoering oor die kerk en het in die voorste ry gesit. Wanneer hy dit nodig geag het, het hy opgestaan en kommentaar gelewer oor iets wat die Here vir hom gedoen het. Vir hom was dit ’n nuwe wêreld wat oopgebreek het en hy wou ten volle daaraan deelneem. Vir die bestaande lidmate wat gewoond was aan ’n mate van orde in die erediens was sy gedrag vreemd en hul ongemak was later opmerklik.
Tydens ‘n huisbesoek aan hulle, het ek en Annakie hulle onder andere vertel van die vervulling met die Heilige Gees volgens Handelinge 2. Ons wou hulle op daardie stadium net inlig oor ’n verdere ervaring vir die gelowige, waarvan hulle niks geweet het nie. Die idee was om hulle net in te lig en dat ons dit later sou opvolg as hulle daarvoor gereed was. My gebed net voor ons vertrek, was ook iets in die voege: “Here, doop hulle in die Gees”, bedoelende later, wanneer hulle dit verstaan en ’n begeerte daarvoor het.
Dit was nie wat Jurgens verstaan het nie. Hy is onmiddellik gedoop in die Gees en het in tale begin praat. Sy vrou het agter hom omgestap en by my gekniel en gevra: “Vir my ook asseblief”. Hy het haar dadelik geantwoord: “Mamma, dit is binne-in jou”. Ek het my hand op haar kop gesit en gebid: “Here, doop haar in U Gees”. Sy het onmiddellik ook in tale begin praat.
Ek en Annakie het verdwaas huistoe gery. Ons het nog nooit so iets beleef nie. Was dit eg? Of was dit twee mense wat die doping in die Heilige Gees met talespraak nagemaak het? Hoe is dit moontlik om iets na te maak waarvan hulle nog nie gehoor het nie? Met ons terugreis het ons vir mekaar gevra: “Was die dinge wat gewoonlik gepaardgaan met die doping in die Heilige Gees, aanwesig tydens die gebeure?” Ons kon net bevestig, dit was daar: die vreugde en opgewondenheid oor God wat die Heilige Gees altyd bring.
Die volgende oggend toe die dag breek het Estelle geskakel en gesê: “Dit gaan nog steeds aan. Toe ek die deur vir die kok oopmaak, het ek weer in tale gepraat”.
Soos met hierdie gebeure en al die ander wat gekom het, het ek en Annakie herhaaldelik vir mekaar gesê: “Ons het niks hiermee te doen nie. Dit was net God wat self gewerk het deur sy Gees”, en dit dikwels teen ons verwagting in. Ons sou dit nog baie keer vir mekaar sê.
4 Manie en Kim
Manie het een Sondagoggend alleen kerk toe gekom en in die agterste bank gaan sit. Sy hare was lank en hy was duidelik ’n vreemdeling in die kerk. Hy het later vertel dat hy nooit in ’n kerk gekom het nie behalwe tydens troues en begrafnisse. Van agter die klavier het Annakie hom gesien en tot die Here gebid: “Laat die man met die lang hare vanaand weer kom en dan red U asseblief sy siel”. Hy het die aand weer opgedaag en sy hart aan die Here gegee.
Tydens die diens se aankondigings vir die week se verrigtinge, het ek genoem dat daar Dinsdagaand huisbyeenkomste (selbyeenkomste) sal wees en ook dat ’n gemeentekamp vir die volgende naweek gereël is.
Dindsdagaand het ek besluit om nie ’n huisbyeenkoms by te woon nie, maar vir Manie by sy huis te gaan besoek aangesien hy die Sondagaand sy hart aan die Here gegee het. Sinoville was ’n noordelike voorstad van Pretoria en Manie en sy gesin het in Clubview, in die suide van Pretoria gewoon. Toe ek voor Manie-hulle se huis stilhou was hy en sy vrou met hulle baba seuntjie op pad na hul motor. Hulle wou ’n huisbyeenkoms in Sinoville, waarvan hy in die diens gehoor het, gaan bywoon. Daardie aand in hulle huis het Kim, Manie se vrou, haar hart aan die Here gegee. Met my vertrek wou Manie weet of hulle ook na die gemeentekamp, waarvan hy in die aankondigings gehoor het, kon gaan. Ek het hulle verseker dat hulle welkom was, maar in my hart het ek gewonder hoe hulle die kamp sou ervaar, omdat kerk en godsdiens vir hulle vreemd was. Kim was nog nie eers in ons gemeente nie. Tog was ek rustig, want albei van hulle het baie duidelik weergeboorte ervaar.
5 Die Gemeentekamp
Met die reëlings vir die gemeentekamp het ons besluit om pastoor Hölscher as kampspreker te nooi. Hy was nie ’n dinamiese ‘herlewingsprediker’ nie, maar ’n toegewyde verkondiger van die Bybelse waarheid. Hy wou van my weet waaroor hy tydens die kamp moet praat.
Ek het kort tevore ’n boek van Hoekendijk gelees: “De kerk binneste buite” en die hoofstuk: “Safety Last” het my aangespreek. In dié hoofstuk het hy geskryf dat die kerk by die spreekwoordelike ‘twaalfde uur’ verby is. Ons het, aldus hom, in die 13de uur geleef. Tyd is reeds verby en ons leef in ’n noodsituasie. Hy het dit vergelyk met ’n noodsituasie soos tydens ’n groot vloed en mense wat sterf. In so ’n buitengewone situasie geld buitegenwone reëls, vandaar “safety last”.
Ek het pastoor Hölscher gevra of hy hom so ’n situasie kon indink en dan daarvolgens kon preek. Hy het ingewillig. Hy het nie Hoekendijk se boek gelees nie en die wederkoms van Christus was ook nie een van sy groot preektemas nie. Ek het later besef dat dit nie nodig was nie. God sou sy doel bereik met slegs sy getroue dienskneg se prediking van God se waarheid.
Ek kan nie onthou of ons spesiale gebede vooraf of tydens die naweek gehad het nie. Daar was slegs ’n liefde vir God en vir mekaar en ’n openheid en verlange na God. Daar was geen opspraakwekkende preke nie. Ons het die Saterdagaand na die preek vir ons mense gebid vir die doping in die Heilige Gees. Daar was ’n merkbare teenwoordigheid van die Heilige Gees, ’n misterieuse ervaring, die besef dat daar “iets” meer was.
Mense het begin ween en aanbid en verskeie mense is gedoop in die Heilige Gees met spreek in tale. Anton, wat ’n introvert was, het in tale begin sing. Hy was ’n vreemdeling vir die Pinksterervaring. Na ons kennismaking in die Kapelaanperiodes het hy ons dienste met sy fiets begin bywoon. ’n Ander man, ’n mooi mens, wat uit die Apostelkerk na die gemeente oorgekom het en wat verskeie merke in sy gesig gehad het, het my hand, wat ek op sy voorkop gesit het, gevat en oor sy gesig gevryf asof hy sy gesig was, terwyl hy in tale praat. Een meisie het, nadat sy in die Heilige Gees gedoop is, uitgeroep: “Bel my pa en sê vir hom dat die stouter, sy dogter, tot bekering gekom het”.
Kim, Manie se vrou, het huilende in tale gepraat terwyl die maskara in swart strepe oor haar wange afgerol het. Lidmate wat die nag saam met hulle in dieselfde gebou geslaap het, het vertel dat hulle tot laat in die nag gehoor het hoe Manie vir Kim probeer stilmaak omdat hy bang was dat sy ander mense sou steur. Sy het steeds in tale gepraat. Die gebou het ’n grasdak gehad sonder plafonne en die klank het oor die mure getrek. Peet wat studeer het om predikant te word in die NG Kerk, is kort te vore gedoop in die Heilige Gees. Hy en sy gesin was daar. Hy was verwonderd oor die hond wat voor in die vertrek lê en slaap het terwyl almal om die hond loop en niemand hom opjaag nie. Hy was ’n diereliefhebber en het vir homself gesê: “Dit is God se mense hierdie en Hy moet hier wees”. Die hele gemeente is daardie naweek verander.
6 Doopdiens
Tydens daardie tyd het ons koster gesê dat ons nie meer die doopwater moet uittap nie want ons doop te dikwels en ons mors water. In daardie stadium was meer as die helfte van die mense wat gedoop is reeds in die Heilige Gees gedoop.
’n Spesifieke naweek het die koster vergeet om die kraan van die doopbad toe te draai en die Sondagoggend was die mat in die kerk onder water. Ons moes voor die oggenddiens die vloer met handdoeke opdroog. Die aand sou ons 15 mense doop, onder andere Jurgens en sy vrou Estelle. Die middag het George geskakel en gevra of hy ’n gaslamp vir die aanddiens moes saambring. Ek wou van hom weet: “Is jy ’n profeet wat weet dat die ligte vanaand af sal wees?” Hy het nee gesê, maar dat hy net wonder.
Ek het die aand sag gepraat terwyl ek met die hulp van ’n gaslamp gepreek het. Die krag was af en die mense in halfduister, maar die plek was vol van God se heerlikheid. Voordat ek Estelle onder die water kon druk, het sy uitgeroep: “Wag, ek sien die Here aan die kruis hang!” Na die doopdiens terwyl ek Jurgens help om sy mansjetknoop vas te maak, het ek hom saggies in tale hoor praat.
Die volgende oggend omstreeks sewe uur het hy voor my deur gestaan met ’n briefie: “My brein is glashelder, maar my mond weier om in Afrikaans te praat. Ek praat steeds in tale. Sal jy asseblief met H.F. Verwoerd Hospitaal reël dat ek nie vandag inkom nie?”
6.1 Jurgens se teenspoed
Nadat Jurgens gedoop is in die Heilige Gees het hy ons verwittig dat hy aan pille verslaaf was en dat hy die gebruik daarvan wil staak. Ons het hom in die proses bygestaan en dikwels langs sy bed gestaan en koortjies sing. Die onttrekkings het baie hewig geword, totdat hy sy bewussyn verloor het. Hy is in die Edenvale Hospitaal opgeneem en later verplaas na ’n Katolieke hospitaal in die noorde van Johannesburg. Hy het sy bewussyn verloor en was nie bewus was van enigiets wat om hom aangaan nie. Die prognose was dat hy met die swelling van sy brein gedurende onttrekking, breinskade opgedoen het.
Op ’n dag het ’n professor van die hospitaal sy vrou geskakel en gesê dat Jurgens snaakse geluide maak. Hy het dit nagemaak en sy vrou het uitgeroep: “That’s our religion!” Sy het besef dat haar man in tale praat. Sy het my dadelik geskakel en van die gebeure vertel. Met my aankoms daar het Jurgens op sy rug gelê met sy oë oop. Hy het my nie raakgesien of teruggeantwoord nie. Dit het geblyk dat hy nie kon sien of hoor nie. Ek het in sy oor begin sing “He touched me” en saggies begin om in tale te praat. Hy het gereageer deur ook in tale te begin praat. Ons het vir ’n tyd lank albei in tale gepraat en God aanbid. Ek het later bewus geword dat iemand in die deur staan en na ons kyk. Dit was die professor en hy wou by my weet wat ek doen. Ek het hom vertel dat die man gedoop is in die Heilige Gees en dat hy net soos toe, in tale praat. Hy het my gevra om gereeld te kom en so met hom te maak. Ek het so gedoen. Jurgens het volkome herstel en later die hoofwildbewaarder in Botswana geword. Ek het hom jare later in Pretoria begrawe nadat hy aan ’n longkwaal oorlede is.
Die doop in die Heilige Gees is ’n gebeure wat in die gelowige se gees plaasvind. Vir ’n sintuiglik-gerigte mens wat geleer het om slegs in die kognitiewe wetenskaplike wêreld te leef, is die pad na die wêreld van die Gees van God ’n ver pad om te loop, maar tog so naby, die misterie is in ons.
7 Die homeopaat en die bedlêende vrou
Een van ons lidmate het gevra dat ek vir sy vriend, ’n homeopaat, gaan bid. Ek het die dokter by sy huis in die bed gevind. Hy het nie geweet wat sy siekte was of wat die oorsaak daarvan was nie. Volgens hom kon nóg die mediese wetenskap nóg homeomatie hom help. Hy het konstant soos ’n wurm in sy bed rondgekrul van pyn en ongemak. Ek het hom eers gehelp om Jesus as sy Saligmaker aan te neem en daarna het ek vir sy genesing gebid. Niks het met hom gebeur nie, maar ek was oortuig dat die Here hom oor ’n tyd sou genees. ’n Paar weke later het ek hom in sy spreekkamer besoek en hy was gesond. Hy het my deur middel van ’n homeopatiese oogdiagram en ’n vergrootglas gewys waar die teken van die siekte in sy oog was.
’n Paar weke later het ek ’n oproep van ’n bejaarde dame ontvang wat vertel het dat haar dogter siek was en dat hulle ’n homeopaat besoek het. Die dokter se vrou, wat in sy spreekkamer gewerk het, het vir haar gesê dat haar man siek was en dat iemand vir hom gebid het waarna hy gesond geword het. Sy het my telefoonnommer daar gekry en gebel. Die aand het ek die tragiese verhaal by die bejaarde dame, wat haar siek dogter versorg, gehoor. Die dogter het veelvuldige probleme gehad waaronder haar rug, wat dermate so gedisintegreer het dat sy bedlêend geword het. Die buurvrou het aanvanklik haar help versorg en toe later met haar man weggeloop en nou moes die bejaarde ma haar versorg.
Ek het die vrou eers gehelp om Jesus aan te neem en daarna het ek vir haar gebid. Toe ek klaar vir haar gebid het, het haar ma die vertrek binnegekom en gevra dat ek vir haar ook moes bid. Terwyl ek vir haar gebid het, het haar dogter vanself uit die bed opgestaan en langs ons kom staan. Ek het my hand op haar kop gesit en gebid dat die Here haar doop in die Heilige Gees. Sy is in die Heilige Gees gedoop en het in tale begin praat. Sy is die volgende Sondag in die pastoriebadkamer se bad gedoop.
Niks hiervan het iets te doen gehad met wat ons kon doen, of het met dramatiese handelinge gepaard gegaan nie. Ons het nooit propaganda gemaak oor God se krag of genesing nie. Ons was net in stille verwondering oor wat God besig was om te doen. Wat opmerksaam was, was dat heelwat arm en behoeftige mense die dienste begin bywoon het. Hulle het dikwels in groepe gekom en voor in die kerk ’n hele ry volgesit.
Ander lidmate het soms ongemaklik voorgekom oor hulle teenwoordigheid, wat ons laat besef het dat ons mense voorkeure het van hoe hulle kerk moet lyk. Vir ons was dit ’n geleentheid om God se genade te verkondig, iets waarvoor ons dankbaar was.
8 Rooiwalkragstasie se bidure
Rooiwal, ongeveer 15 kilometer noord van Sinoville, was ’n klein woongebied van die personeel wat by Rooiwalkragstasie gewerk het. In die hele noordelike omgewing en rondom Rooiwal het baie mense op kleinhoewes gewoon. As jy met die ou pad saans na Warmbad gery het, kon jy die huise se liggies sien brand. Een aand, terwyl ek die liggies gesien het, het ek ’n las van die Here gevoel om vir hulle iets te doen. Ek het met Alf Bekker gesels en ons het besluit om elke Donderdagaand in daardie omgewing ’n huisdiens te hou. Daar het ’n klompie mense gekom. Alf het die sang gelei en ek het gepreek. Alf was nie ’n merkwaardige sanger nie en ek wou dikwels help met die sang wat gesukkel het. Na so ’n diens het hy my gevra dat ek liewer nie moet probeer help nie want dit maak hom meer deurmekaar. Die sukses was min en die mense het nie Sondae na ons dienste in Sinoville gekom nie. Ook het hulle vele onderlinge probleme gehad en soms aan ons eise gestel wat ons gepla het.
Een Donderdagaand, die begin van ’n Paasnaweek, was ons weer op pad na die ‘plotdiens’. Ek was nie baie gelukkig nie, want dit was Paasnaweek en ek het ook ander belange gehad. Die mense en die eise wat hulle gestel het, het gepla en dit terwyl hulle nie presteer het nie. Dié aand was daar ’n vreemde besoeker tussen hulle en ek, wat steeds knorrig was, het, nadat ek gepreek het, hulle beveel om te kniel en van ‘n kant af, een vir een te bid. Terwyl hulle bid het die Here my kalm gemaak en in my die begeerte gewek om die vreemdeling te help om God te vind. Ek het die gebede gestop, en my stoel tot voor hom gesleep en hom gevra: “Mag ek jou help om Jesus te vind?” Hy was dadelik bereid en ek het hom voor al die mense gehelp om Jesus aan te neem as sy persoonlike Saligmaker.
Toe ons regop kom was sy vraag: “Sal die Here my doop aanvaar? Ek is as kind deur my kerk besprinkel.” Ek het aan hom verduidelik dat die Here dit ongelukkig nie kan doen nie, want ’n mens moet eers die Here Jesus aanneem en dan word jy as gelowige gedoop. Jou doop is die belydenis dat jy jou lewe aan Hom gegee het en Hy nou baas van jou lewe is. Hy het dit sonder meer aanvaar en sy volgende vraag gestel: “Mag ek in my kerk bly nadat jy my gedoop het?” Waarop ek hom geantwoord het: “Al te seker, jy behoort aan ’n goeie kerk en ek het baie vriende wat predikante in jou kerk is. Hulle is goeie mense”. Hy is ongeveer twee weke later in Sinoville-gemeente gedoop en was toe reeds ’n lidmaat van die gemeente.
Wat ek nie daardie aand in my ongelukkigheid geweet het nie, was hoe die vreemdeling by die biduur gekom het, en wat God se plan verder was nie. Noord van Pretoria is dit warm wêreld en hy het snags buite onder ’n afdak geslaap. Die afdak het sy huis met twee rondawels verbind. Die Woensdagnag voor die huisdiens het hy die tweede nag wakker geword met die Môrester wat deur ’n skroefgat in die dak, presies op hom geskyn het. Die tweede nag was die toeval vir hom te veel, hy het opgestaan en sy Bybel oopgeslaan. Die plek waar hy gelees het, was die Here wat sê: “Ek is die môrester!” Hy het in die omgewing rondgery want hy het gehoor iewers op die kleinhoewes word daar op Donderdagaande kerk gehou. So het hy daar opgedaag om Jesus te kom vind.
Hy het ’n klavier geskenk, en vandag, aan die regterkant van die ou pad van Pretoria na Warmbad, net anderkant Rooiwalkragstasie, staan die Rooiwal kerkgebou. Hy het die grond ook geskenk. Ek het daardie Donderdagaand nooit geweet waarmee God besig was en wat daardie Paasnaweek gebore sou word nie. Gelukkig het ek rustig geword en God se fluistering gehoor om die vreemdeling te help om Jesus te vind.
9 Tentdienste in Rooiwal
Ons het tentdienste in Rooiwal gehou waartydens ek die prediker was. Ons het ’n tent gehuur en ons gesin se tentjie langsaan opgeslaan as ’n bidplek om mense na die Here te lei. Dit was ’n mooi tent wat van die buiteland bestel was. Die wind het egter eendag opgesteek en dit in flarde geruk. Dit is nooit vervang nie, maar die dienste was vir ons gesin ’n besondere tyd.
René, ons vierjarige oudste, het elke aand wanneer ek mense tydens gebed uitnooi om hulle hande te lig as teken dat hulle die Here wil aanneem, in die paadjie tussen die rye stoele gaan staan en my reguit in die oë gekyk. Elke aand het sy dieselfde gedoen en ek het hieroor gewonder. Een oggend aan ontbyttafel het sy vir my gevra: “Pa, hoe gee ’n mens jou hart aan die Here?” Ek het toe besef wat haar elke aand gepla het en aan haar verduidelik, maar haar nie gehelp nie vanweë my toentertydse onsekerheid of sy groot genoeg was om die Here aan te neem. Dié waarheid moes die Here my nog self eers leer. ’n Kort tydjie daarna, met slaaptyd, het sy aan Annakie gesê: “Ma, vanaand moet jy bid”. My vrou wou weet, waarom so? “Dis die groot gebed: die gebed waarin ek my hart aan die Here wil gee”. Sy het daardie aand self die ‘grootgebed’ gebid. Laatnag het sy nog prentjies in haar Kinderbybel gekyk; die ervaring was te groot.
’n Paar dae later wou Annakie stad toe gaan. Saamry, wou René nooit mis nie maar dié oggend wou sy egter volstrek nie saamgaan nie. Na baie geveg en trane het sy met die waarheid uitgekom: “Ek het my Kinderbybel in stukkies opgeskeur en vandag is die dag wat ek straat af wil gaan en dit aan mense gee sodat hulle ook die ‘groot gebed’ kan bid”. My kind van vier jaar was volledig ’n Christen met ’n begeerte om ander mense te help om Jesus ook te vind.
Velma, ons tweede, het ook op vier jaar, deur die persoonlike inspraak van die Heilige Gees en sonder die hulp van iemand, haar lewe aan die Here gegee. Sy het glashelder getuig van die gebeure en geloofsekerheid was vanaf dag een, baie duidelik. Haar hele lewe het ’n getuienis van God se groot genade geword.
Na bykans 50 jaar van God se betrokkenheid in ons kinders se lewens, is dit vir ons ’n wonder so groot soos die kloof van die Rooisee.
9.2 Die boorman en sy vrou
Tydens die dienste het ’n jong man sy hart aan die Here gegee. Hy het vertel dat sy pa ’n boorman was wat iewers langs die pad tussen Pretoria en Warmbad geboor het. Op ’n Saterdag was ek en Alf op pad van Warmbad na Pretoria. Langs die pad het ons ’n boormasjien en karavaan sien staan. Ek het die seun onthou en ons het ingedraai en geklop. In die karavaan het ’n man met dik vingers, weens jare se boortou-werk en wat deur wind en weer verweer is, gesit. Langs hom het sy vrou gesit. Dit was Saterdagmiddag, rustyd. Ek het na sy hande gekyk en vir hom gesê: “Jy het baie swaar in hierdie lewe gekry en ek wil nie hê dat jy boonop vir God in die lewe hierna moet mis nie. Kan ek jou help om God te vind?” Sy vrou het op die punt van die bankie geskuif en gesê: “Asseblief, sê ons wat moet ons doen!” ’n Ruwe boorman en sy vrou het daardie middag hulle lewens aan God gegee.
Dit was ’n warm middag toe ons daar wegry, maar Alf en ek het dit nie gevoel nie; in ons harte het ’n koel bries van God se heerlikheid gewaai. Alf het gesê: “Sê my, is daar nie nog iemand wat ons vanmiddag kan help nie?” Dit was laat in die jaar, November of Desember – ek kan nie onthou nie, maar op Oujaarsnag, is sewe lede van hierdie familie in ’n buurgemeente in die stad gedoop. Alf en ek het niks gedoen nie, slegs God se spoor gevat, oppad na mense toe.
10 Ons weggaan
Alhoewel die gebeure nog in sy kinderskoenstadium was, was daar ’n opgewondenheid oor God se spontane seën wat ons so sigbaar in talle mense se veranderde lewens gesien het. Kerkhou het ’n gemaklike, aangename en vrolike gebeure geword. Weggaan van die gemeente sou nooit ooit in ons harte opgekom het nie. Dit was toe dat pastoor Cronjé, die prinsipaal van AGS Teologiese Kollege, geskakel het en my gevra het of ek ’n beroep as dosent in Praktiese Teologie sou aanvaar. In Sinoville het ons pas ’n nuwe pastorie voltooi. Die kerk en pastorie was op ’n kleinhoewe met eie water en ek het ’n perd gehad waarop ek die Wonderboomlughawe se gronde, agter ons, vol kon galop.
Omdat pastoor Cronjé voor my koms na Sinoville reeds met my oor ’n dosentepos gesels het, was dit altyd in my agterkop, maar op daardie staduim was dit baie ver en hoogs onwaarskynlik. Na 46 jaar wonder ek vandag nog waarom God ons weggaan beplan en toegelaat het. Iets misterieus het daardie oggend gebeur voordat ek vir ons afspraak by die vulstasie opgedaag het. Daar is goed wat soms tussen jou en God gebeur waaroor jy nie mag gesels nie.
Ek was ook so beïndruk met God se spontane en onbeplande seën in die laaste jaar van ons werk in Sinoville, dat ek gevoel het dit sal vanselfsprekend gebeur op elke plek waar ek my bevind. Ons het gegaan na wat vandag bekend is as die Aucklandpark Teologiese Seminarium (ATS). Ek het deur die jare die geleentheid gehad om baie rond te preek en kampe te hou, soveel so dat ek op stadiums besprekings gehad het wat oor twee jaar gestrek het. Dit was baie wonderlike tye. Ek het my B.D.- en D.Th-grade (Doctor Theologiae) voltooi, streeksvoorsitter, vise-president van die AGS en prinsipaal van die Seminarium geword. ATS het onder my leiding ooreenkomste met Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) en later met Noordwes Universiteit (NWU) aangegaan wat opleiding van voorgraads en nagraads tot op D-vlak ingesluit het. ATS het akademies tot ’n totaal ander vlak beweeg, met studente selfs in die buiteland.
Nieteenstaande die sukses was my swaar en teenspoed in dié jare ondenkbaar en oneindig. Ek sal dit nie waag om dit te verwoord nie, want soms dink ek dat my naaste vriende mag dink dat God nie so iets sal toelaat vir iemand wat Hy liefhet nie. Ek dank God vir fantastiese vriende, wat ten spyte van alles in my bly glo het. Ons het geleer dat swaarkry Christuslyding is, en dat dit die deur na God se moontlikhede is. Dit wil sê, as jy God kan bly glo, glo in God wat uit die dood opwek, al is jy oortuig dat die doodsvonnis reeds voltrek is (sien 2 Kor. 1:9).
Ons, ek en my gesin het geleer, en dit neem soms baie lank, om met Jesus alleen gelukkig te wees. Jy moet eers alles verloor om te besef dat jy nie saam met God kan loop en sy wil kan doen as jy Hom nie kan glo nie (sien Heb. 11:6). Jy moet met Hom ’n verhouding vestig waarin jy jouself kan vertrou en waarin jy geleer het om na sy stem te luister.
Ons leef vandag in die mees verwarrende tyd, waarin die klein slang van Genesis 3 geakkumuleer het tot die vuurrooi draak en die dier uit die see en die dier uit die aarde (Open 12 &13). Die tyd van die grootste verdrukking en verleiding wat die wÍreld ooit gesien het of sal sien, soos Jesus gesê het: “En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef het nie; maar ter wille van sy uitverkorenes sal God daardie tyd inkort” (Matt 24:22). Maar ons tyd is ook die mees ideale tyd met die meeste beloftes vir ’n herlewing voordat Jesus kom. Daar is nie ’n meer geskikte tyd hiervoor nie.
Leave a Reply