In ‘n langer artikel word gekyk na die vraag:  Gaan die doop in die Heilige Gees gepaard met die spreek in tale?  ’n Tweede vraag wat noodwendig is: Wat is die sin van die spreek in tale?

Hier volg ‘n kort opsomming van die artikel.

This article is also available in English.

Opsommend: Kom ons sê weer waar pas “tale praat”, of te wel wat is die sin van spreke in tale ten opsigte van die doping in die Heilige Gees:

Tale praat is nie ’n teken van die doop in die Heilige Gees nie, dit is soos reeds gesê, meer as dit. Tale praat is die spontane, begeleidende reaksie van die gelowige op die doping in die Heilige Gees. Dit is die fisiese uitdrukking van die “oorvloei”, die “oorloop”, die “strome van lewende water”. ‘n Voortdurende vloei van die teenwoordigheid van die Skepper God in aksie in die gelowige tydens en na die ervaring van die doop in die Heilige Gees.  Dit is die gelowige se spontane oorgawe aan, sy in die hand plaas van, en die konkrete en waarneembare werking van die Gees van God in sy lewe. Hierdie belewenis en proses word in die Bybel beskryf as praat met God oor sy “verborgenheid”: waarheid en belewenis van God se onbeskryflike almag en intense naby liefde, wat bo menslike begrip of verstand is. ’n Deelname van die gelowige deur en saam met die Gees wat hom op reis neem van slaaf tot kind van God, tot mede-erfgenaam saam met Christus. Spreek in tale is niks minder as ’n deelname aan die krag en heerlikheid van die opgestane Christus op die troon nie.

Dit gaan nie oor taal praat per sé nie, die dialek, of oor hard of sag nie. Nooit mag dit ’n kultus word, ’n heilige sakrament of ’n bewys van ’n gelowige se heiligheid voor God nie.  Dit is kommunikasie met God waarby die gelowige geïnspireerd betrokke is.  ’n Konkrete kommunikasie in woorde en oor waarhede, ’n wyse van meditasie wat soms fluisteringe kan wees tussen God se Gees en mense se gees.  Soms is dit hard en duidelik afhangende van die inhoud wat gekommunikeer word.  Dit mag ’n geveg wees met die bose waarin die intensiteit van die stryd duidelik sal word.  Soms is dit ’n meevoering in verwondering en uitbundige ekstase wanneer God se grootheid en liefde ervaar word.  Soms gaan dit gepaard met hartseer wanneer dit ’n gesprek word oor eie leemtes of voorbidding vir mense wat in nood is.  Die gelowige word ‘n ware vennoot en moet self die inhoud van die kommunikasie bewustelik beleef. God en mens op die konkreetste wyse saam op pad, hand aan hand, maar God wat die agenda opstel en sy wil laat geskied.  Tale praat moet, nes God en alles wat God vir die gelowige doen, nie vreemd vir die gelowige wees nie, maar eerder deel van sy alledaagse saamloop met God wees, want daarvoor is die “in julle” te naby en is die behoefte aan kennis en ervaring van God en sy roeping te groot.

Wat van belang is, is die gelowige se oorgawe, saamloop, saampraat en die gevolglike verandering wat beleef word.  Hy – alhoewel deel van ’n sekulêre wêreld wat vasgevang word deur ’n rasionele en sintuiglik waarneembare wêreldbeeld – moet homself tuismaak in die vreemde wêreld van die Gees met ’n onversadigde dors na die lewende water wat Jesus gee.  Daar moet nooit haas wees nie, maar doelbewuste oorgawe, om denkend tot verstaan te kom, “… die beuel moet ’n duidelike sein gee …” (1 Kor. 14:8).  Al is daar nie ’n gehoor aanwesig wat ’n uitleêr benodig om te verstaan nie, moet die gelowige wat deur die Gees verborgenheid met God praat, die gesprek verstaan, beleef, verander en gebou word.  Dit word “private profesie” tussen God en ’n gelowige, maar mag nooit tot eie belange geprivatiseer word nie, of tot bewyse gereduseer word nie, maar moet altyd oor die groot dade, plan en liefde van God vir alle mense wees.  Heilshistories is dit belangrik:  Dit is deel van al God se heilshandeling in Jesus en is nie ’n waarheid geskep deur die Pinkstermense of hulle eiendom nie, ook nie ’n waarheid wat opsioneel beskou mag word nie.  Eindtyd gebeure wat deur God die Vader beloof is en deur Jesus moontlik gemaak is; heel waarskynlik die sleutel tot herlewing.