Esegiël hoofstuk 18 is ’n baie besondere hoofstuk in verband met stryd en lyding in ’n gelowige se lewe.  Maar let veral op die volgende verse:

Verse 1-3; 20; 31-32:

Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Israel, naamlik:  Die Vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?

So waar as Ek leef, spreek die Here my God, dit sal julle nie meer in die gedagte kom om dié spreekwoord in Israel te gebruik nie.

Die siel wat sondig, dié moet sterwe, die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie, die geregtigheid van die regvredige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.

Werp julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees, want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?

Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here my God: Bekeer julle dan en lewe.

Hierdie gedeelte wat jy gelees het, is Esegiël se woorde aan die Israeliete wat saam met hom in Ballingskap was.  Hulle was vir 70 jaar in ballingskap voordat die eerste ballinge begin terugkeer het na Israel.  In hierdie tydperk is ’n nuwe geslag in Babel gebore, en het in die “vreemde land” grootgeword. 

Dit was vir hulle baie moeilik, hulle kultuur, taal en godsdiens was onderdruk.  Hulle het gevoel dat hulle te na gekom was, en was bitter ongelukkig.  Ons lees byvoorbeeld in Psalm 137:1-2; 4:

By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink

Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang. … Hoe kan ons die lied van die Here in ’n vreemde land sing?

Hulle het boonop gevoel dat dit nie hulle skuld is, vir die toestand waarin hulle is nie.  Dit is nie hulle wat gesondig het nie, dit was hulle ouers wat ongehoorsaam aan die Here was en daarom as straf in ballingskap weggevoer is.  Hulle is onskuldig, hulle was in die vreemde land gebore! 

Die vraag aan Esegiël was:  Hoekom moet hulle nou die gevolge van hulle voorgeslag se sondes dra?  Met ander woorde, wat gebeur het, is dat hulle ouers nie net teenoor die Here gesondig het nie, maar ook teenoor hulle. Daarom het die spreekwoord ontstaan wat in vers 2 voorkom:

Die Vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?

Hoe geldig hulle ookal gedink het hulle argument was, was die Here nie daarmee beïndruk nie;  vers 3 sê:

So seker as wat Ek leef sê die Here my God, julle sal nie meer die spreekwoord in Israel gebruik nie. 

Wat Israel hier gedoen het, is so oud soos die gebeure in die tuin van Eden self.

Wanneer jy stryd en lyding ervaar of ongelukkig is, blameer jy iemand anders daarvoor. 

Blaamverskuiwing en verwyte los egter geen probleem op nie.  Die boodskap van hierdie Skrifgedeelte is:  Die vraag wat God van jou vra is nie in die eerste instansie waarom jy in die toestand is waarin jy is nie, maar wat doen jy daaromtrent? 

Daarom die baie duidelike woorde in die res van hierdie gedeelte:

Vers 20: 

… die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie, die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees. 

Vers 31-32:

Kry ’n nuwe hart, en ‘n nuwe gees. … Bekeer julle dan en lewe.

Stryd en lyding is onvermydelik

Die stryd en lyding wat die Israeliete hier beleef het, beleef ons ook, net in ander gestaltes.  Dit is onmoontlik om deur hierdie lewe te gaan sonder stryd, pyn en seer.  Daarvoor is die werklikheid te gebroke, en is die realiteit van sonde en die Bose te groot. 

Mense gaan teen jou sondig en dit gaan jou seermaak, net soos die Israeliete teen hulle nageslag gesondig het.  Jy kan ook (net soos die nuwe geslag ballinge) jou stryd en lyding verdiep deur verkeerde en sondige besluite of dade. ’n Soort van rebellie teenoor dit wat die Here van jou verwag, en eerder jou eie kop te volg.

Dit kan ook gebeur dat iets onverstaanbaar oor jou kom, en baie stryd en pyn veroorsaak.   Dikwels het jy nie antwoorde nie.  Feit is egter, om iemand of iets te soek om die blaam te dra, gaan nie die pyn wegneem nie – ander het groen druiwe geëet en nou is my tande stomp.  Breek vir goed met daardie roete.  God het geen simpatie met so ’n gesindheid nie.

Die kernvraag is nie:  Waarom? of Hoekom? nie – dit is sekondêr.  Dikwels is daar geen antwoord op die waarom en hoekom vraag nie.  God se vraag is:  Wat maak jy met die pyn of die omstandighede waarin jy jou bevind?  

Vers 31-32

Kry ’n nuwe hart, en ’n nuwe gees. … Bekeer julle dan en lewe. 

Bekeer jou van blaamverskuiwing, dien die Here en doen wat Hy van jou verwag. Dit is die pad na lewe!  Byvoorbeeld: As iemand jou van ’n skip die see in stamp en ’n reddingsgordel word na jou uitgegooi, gaan jy nie oorleef deur jou onskuld te bepleit en die oortreder te blameer nie.  Vat die lewensgordel al is jy onskuldig in die see!   Hierdie lewensgordel is Christus en dit wat Hy vir jou gedoen het en jou leer om te doen.

Die Here verwag van ons om die probleem te hanteer en te oorwin.  As jy self verantwoordelik is vir jou stryd en pyn, is daar vergifnis by God, bely jou skuld, kry vergifnis en leef vir die Here.  As God jou vergewe het, vergewe ook jouself. 

As jy stryd en lyding het omdat jy teenoor ’n ander gesondig het, is aar ook vergifnis daarvoor by God.  Maak ook reg teenoor die een teenoor wie  jy gesondig het, vra ook daar vergifnis.  Dit is die eerste stap op die weg na oorwinning en lewe.  Die probleem is natuurlik dat vergifnis, hoe belangrik dit ookal mag wees, nie altyd jou seer en pyn wegneem nie. 

Die vraag bly: Wat maak jy met jou stryd en lyding – ongeag hoe dit deel van jou lewe geword het?  Paulus skryf van baie stryd en lyding wat hy ervaar het, en dan sê hy in Romeine 8:37

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

Hoe kan jy soos Paulus meer as oorwinnaar wees?  Ek moet erken – dit is makliker gesê as gedaan.  Dit sal egter belangrik wees om in dié verband eerstens na God self te kyk.

God en oorwinning

Die woord “oorwinning” is in die Bybelse tyd op ’n tweeledige wyse verstaan.

  • ’n Koning kon sy vyand oorwin deur almal met die banvloek te tref en dood te maak
  • Hy kon hulle ook oorwin deur van hulle sy diensknegte te maak, soos die koning van Babel met Israel gedoen het soos in Esegiël 18 gereflekteer word.

Hierdie tweeledige wyse van oorwinning is ook kenmerkend by God as dit gaan oor die mag van die Bose.  Op hierdie stadium is die Bose ’n oorwonne vyand deurdat hy die dienskneg van God (en die gelowiges) geword het.  Maar daar kom ook ’n dag wat die Here die Bose en al sy navolgers met die banvloek sal tref, en almal sal uitwis.

Stryd, pyn en lyding is altyd direk of indirek aan die Bose gekoppel, daarom sal daar in die Hemel geen pyn en lyding of stryd wees nie.  Nou het ons egter nog steeds met die Bose en die vrug van die sonde te doen, en soos God dit oorwin deur dit op hierdie stadium Sy dienskneg te maak, so moet ons dit ook oorwin deur dit ons dienskneg te maak in Christus.  Dit is die manier waarop ons, soos Paulus, meer as ’n oorwinnaar kan wees.

Victor Frankl, ’n Oostenrykse Psigiater wat weens sy Joodse agtergrond tydens Hitler se bewind gevange geneem was en wie se vrou doodgemaak is, het eenmaal hierdie baie belangrike, maar ook baie eenvoudige stelling gemaak:

Lyding en pyn sonder sin en betekenis is gelyk aan wanhoop

Maar

Lyding en pyn met sin en betekenis is gelyk aan hoop

Lyding, pyn en stryd word jou dienskneg as jy daarin slaag om dit sin en betekenis te laat kry tot verheerliking van God en tot voordeel van jou geestelike groei.

God is ons norm en voorbeeld wat dit betref.  Die volgende paar gevalle kan as voorbeelde in dié verband dien:

Die sondeval:

Op die oog af lyk dit of die duiwel vir God met die sondeval ’n geweldige hou toegedien het.  En die sondeval was inderdaad ’n tragiese gebeure.

Die Bybel sê in Gen 6:5-6

Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.

Maar let op hoe God dit hanteer het.  God het die sondeval in Sy diens gestel deur dit te gebruik om dimensies van Sy liefde, goedheid, geregtigheid en genade aan ons bekend te maak wat ons andersinds nooit sou geken het nie.

Met ander woorde die sondeval het meegbring dat God tot nog groter heerlikheid gekom het as wat sou gebeur het as die sondeval nie plaasgevind het nie.

Ook staan God se bruid nou met groter heerlikheid voor Hom as Adam en Eva voor die sondeval.  Dit is ’n bruid wat ten spyte van versoekings en aanslae van die Bose steeds aan die Here getrou gebly het.  Immers, om getrou te bly aan iemand sonder enige versoekinge sê nie veel nie. 

Farao se sondige en verharde hart:

Farao het hom laat gebruik as ’n instrument in die hand van die Bose om verset te bied teen die plan van God met die Israeliete, en gevolglik wou hy hulle nie laat trek nie.  God gebruik egter hierdie verset as dienskneg om vir Sy volk te wys hoe magtig Hy werklik is, en een plaag na die ander volg – tot uiteindelik ook die dood van Farao se eersgeborene.  Satan het met ander woorde meegehelp dat Israel die Here se mag leer ken het en gevolglik geen rede gehad het om aan Sy mag en heerskappy te twyfel nie. 

Wonderwerke:

Jy kan gerus gaan kyk;  elke wonderwerk in die Bybel is voorafgegaan met ‘n krisis, en krisisse is as gevolg van die sondige en gebroke wêreld waarin ons leef. Krisisse wat stryd en pyn veroorsaak het.

God stel egter hierdie krisisse in Sy diens om Sy almag te openbaar, maar meer nog, Hy gebruik dit ook as flitsende demonstrasies van ons toekomstige hemelse werklikheid. 

Wanneer Hy ’n sieke gesond maak, is dit ’n teken en boodskap aan ons dat daar geen siekte in die hemelse heerlikheid sal wees nie 

Wanneer Hy ’n hongerige skare voed, is die boodskap dat daar in die hemel geen honger sal wees nie. 

Wanneer Hy die storm stil maak, dui dit daarop dat in die nuwe hemel en aarde die natuur die mens nie meer sal bedreig nie. 

Wanneer God Israel se vyande oorwin, vertel dit aan ons dat die hemel ‘n plek van vrede sal wees. 

Wanneer Hy ’n dooie opwek, wys dit op ’n toekoms waar die dood uitgewis sal word. 

Ook die dood self het Hy diensbaar aan Hom gestel.  Die dood is God se dienskneg om die gelowige vir altyd te bevry van die Bose, en die ewige lewe te laat beërwe.  Dit is ook sy dienskneg om die ongelowige te arresteer en die nodige straf op te lê. So bly God die heerser oor alles wat is.  

Kruisiging:

Vandat die Here in die vlees gebore is, het Satan in sy haat teenoor God, probeer om Christus om die lewe  te bring.  Dit gebeur uiteindelik aan die kruis.  Christus se dood is ’n donker aanklag teen die mens se sondige gesindheid wat die duisternis liewer gehad het as die lig.  

Dit is ‘n gebeure wat vir God baie pyn veroorsaak het.  Tog word Christus se dood, God se dienskneg om die slang (Satan) se kop te vermorsel, en aan die mens saligheid te skenk. 

Hierdie is die patroon wat hom aanhoudend in die Bybel herhaal.  Daar is nog baie voorbeelde.  Ek vermoed Satan moet ’n baie gefrustreerde wese wees, want alles wat hy doen en veroorsaak het, oorwin God deur dit sy dienskneg te maak tot verheerliking van Sy Naam. 

Jy wat in Christus is: God is aan jou kant, en in Hom kan jy, net soos Hy, meer as ’n oorwinnaar wees.  Natuurlik is dit nie altyd so eenvoudig om sin en betekenis in lyding en pyn te vind, en daardeur dit jou dienskneg te maak nie, maar deur die leiding van die Heilige Gees is dit moontlik. 

Die Christen en Lyding

Soms gebeur dit dat die Here pynvolle dinge in jou lewe toelaat, juis om jou ‘n triomferende en mooi mens te maak.  Langenhoven (SA skrywer), het eenmaal tereg gesê:

Die woestyn lyk soos dit lyk, omdat dit altyd mooi weer het.

As dit in hierdie lewe net altyd met jou goed gaan, loop jy die gevaar om in jou gees soos ’n woestyn te word. 

Hier is ’n paar aanduidings van hoe stryd, lyding en pyn in Christus verwerk kan word en nie deur blaamverskuiwing onderdruk word nie. Hierdie aanduidings is in ’n sekere sin van die woord ’n veralgemening omdat stryd en lyding gewoonlik baie uniek en eiesoordtig in ’n gelowige se lewe is.  Om te veralgemeen is egter onvermydelik in dié verband.  

  • Stryd en lyding moet jy sien as ’n geleentheid om jou stand vir Christus en die evangelie te neem.

Die vroegste kerk het deur vervolging baie stryd, lyding en pyn ervaar, en tog aan die Here getrou gebly.  Die gevolg is dat ’n getuienis uitgedra is wat selfs die hardste sondaars oorweldig het. 

Dit is die rede waarom die kerk in daardie tyd so fenominaal gegroei het.  Daar het ’n spreekwoord ontstaan wat gesê het:

Die bloed van die martelare is die saad van die Kerk

Jy sal ook onthou hoe die Here sy stryd en pyn aan die kruis hanteer het, en vir Sy vyande gebid het.  Die gevolg was dat die Romeinse hoofman oor honderd spontaan bely het: 

Matteus 27:54:  Hierdie man was werklik die Seun van God.

  • As jy aan die Here getrou bly, sonder blaamverskuiwing en verwyte, sal jy ook agterkom dat stryd en pyn by jou ’n innerlike krag ontwikkel, en geestelike waardes sterker na vore bring. 

Dit maak dat elke aanslag teen jou omskep word in ’n oorwinning vir God se saak.  Satan het gemeen dat deur Paulus in die tronk te laat beland hy hom sal stil maak en die Evangelieboodskap sal smoor.  Maar toe Paulus in die tronk beland toe skryf hy die meeste briewe wat vandag die NT uitmaak. 

Ook in die tronk het hy geleentheid gekry om die evangelie aan die keiserlike lyfwag te verkondig, wat hy andersinds nie sou kon doen nie.  Geen wonder dat hy oor sy gevangenisskap aan die Filippense skryf: 

Filippense 1:12  “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het.”

  • Jy sal ook agterkom, om stryd en pyn met blymoedigheid te verdra – immers, blydskap is ’n vrug van die Gees, nie van omstandighede nie – word ’n bron van inspirasie vir andere om met groter vertroue en waagmoed stand te neem vir die Here en Hom te dien – veral vir jong Christene.

Ek het as ’n jong leraar een van my lidmate gereeld in die hospitaal besoek – ’n ouerige dame.  Sy het rugmurgkanker ontwikkel wat na haar brein versprei het. Sy het gevolglik blind geword en baie pyn verduur voordat sy doodgegaan het. Tog was daar altyd by haar ’n innerlike blydskap wat deur geen siekte gekeer kon word om na buite te straal nie!  Ek het gegaan om haar te bemoedig, maar ek was telkens die een wat bemoedig van haar weggegaan het!  Sy het my weer eens laat besef dat God se teenwoordigheid en die vrug van sy Gees in ’n mens ’n groot werklikheid is! 

  • Pyn in jou lewe kan ook ’n wonderlike gebeure word wat jou nader aan die Here bring.

Jy het natuurlik ook die keuse om soos Job se vrou, God te vloek en in rebellie jou eie koers te gaan.  Maar as jy juis na die Here bly gaan vir beskerming en vertroosting, het dit presies die teenoorgestelde effek as wat die Bose gehoop het om te bereik, en sal hy sy aanslae stop.  Dit is dan wat stryd en lyding juis jou verhouding met die Here verinnig en jou gevolglik ’n besondere mooi en sterk mens maak. 

  • Dit is ook so dat stryd en pyn ’n gelowige help om sy visie meer en meer op die ewige te stel. 

Teleurstelling, swaarkry en pyn help jou om perspektief te kry oor hoe hierdie wêreld regtig is en die ook die regte prioriteite na te streef.  

Paulus skryf in 2 Kr. 4:16-18

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie.

Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons dag na dag vernuwe.

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare;

Want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

Van die innerlik lelikste mense op die aarde is dié wat deur stryd en lyding gegaan het, maar dit op ’n goddelose manier hanteer het.  Dit is verbitterde en depressiewe mense. Van die innerlik mooiste mense op die aarde, is dié wat stryd en lyding volgens die wil van God hanteer het.  Dit is wyse en blymoedige mense.

Wat gebeur wanneer stryd en lyding op ’n Bybelse manier hanteer word, is dat dit ’n oorwinning van die gees oor die vlees meebring, van die onsigbare bo die sigbare dinge, en van die ewige oor die tydelike.  

So word jy ook in ’n groot mate immuun teen die verleiding van hierdie wêreld.  Jy ken die pyn en teleurstelling wat dit kan bring.  En so word jy van jou grootste gevaar beskerm (nie stryd en lyding nie).  Maar verbroedering met die wêreld, dit maak jou geestelik dood!

  • Een van ons grootste versoekinge tydens stryd en lyding is dat ons te veel op die vlees vertrou en vleeslik sterk wil wees. 

Hoe swakker jy vleeslik word as gevolg van stryd en lyding, des te meer sal jy as gelowige vind hoe hoër die onvernietigbaarheid van jou gees opvlam.  Want dit is dan wat jy baie afhanklik van die Here word. 

Dit is wat Paulus bedoel met sy woorde in 2 Kor 12:10

Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”

Jy word soos ’n leeu, as jy verwond is, jy is op jou gevaarlikste vir jou vyand! 

  • Stryd en lyding en pyn in jou lewe kan jou dienskneg word om werklik eenheid tussen jou en die Here te bring.

Byvoorbeeld:

Deur die ontrouheid van jou huweliksmaat wat soveel pyn kan bring, en dit so moeilik maak om te vergewe, veral omdat hy of sy die skuldige is, maar jy wat onskuldig is die meeste pyn beleef, het jy die voorreg (soos geen ander nie) om met Christus een te word. 

Een in sy pyn oor jou, en jou ontrouheid aan Hom deur jou sonde.  Jy kan nou iets ervaar van wat Christus ervaar het oor jou ontrouheid, en hoe hy jou vergewe het!  Dit maak dat jou liefde vir die Here nog groter kan word, en jou vergifnis meer eg kan word.  En dat jy met groter huiwering aan die Here ontrou sal wees. 

Dit maak ook dat as jy ’n dierbare, veral ’n kind deur die dood verloor het, die voorreg het om iets te ervaar oor hoe God die Vader gevoel het toe Hy sy Kind op so ’n wrede manier aan die dood moes oorgee.  En Hy was bereid om dit te doen vir jou redding! 

Verder gebeur dit ook dat as mense teen jou sondig, of as jy verwerping ervaar,  jy die voorreg het om ook daarin met Christus een te word. As daar ooit iemand was teenoor wie gesondig is en wat aanhoudende verwerping moes beleef het, dan was dit die Here.  Ook van jou! 

Soms voel jy dat jy nêrens inpas nie, niemand verstaan jou regtig nie, en dat jy baie alleen is.  Christus was seker die Een wat die meeste behoefde gehad het aan begrip en aanvaarding.  Hy was ’n baie alleen mens. Tog het dit hom nie verhinder om voluit te leef en sy Goddelike roeping te vervul nie. Jy kan ook!  

Buitendien gee Romeine 8:17 ons hierdie belofte en versekering:

Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid.

Jy is nie ’n slagoffer van trauma wat in jou verlede gebeur het of wat mense jou aangedoen het nie.  Natuurlik kan jy nie wat gebeur het verander nie, maar met God kan jy die verlede hanteer en oorwin.  Jy het ’n toekoms, moenie handoek ingooi en die wit vlag hys nie.

As jy geen toekoms gehad het nie, sou die Here jou lankal geneem het.  Die feit dat jy lewe, sê dat die Here nog ’n plan en doel met jou lewe het.  Dit is natuurlik ook so dat dit soms God self is wat jou deur baie moelike omstandighede stuur.  Onthou egter, Sy reinigende vuur in jou lewe vernietig nie, dit reinig!

  • Getrouheid aan die Here maak dat stryd en lyding dikwels die voorspel tot verhoging en eer is.

Josef het deur baie stryd en lyding gegaan, en streng gesproke was hy onskuldig daarin gedompel.  Hy kon maklik die spreekwoord aangehaal het: Die vaders (ander mense) het groen druiwe geëet en nou het die kinders (Josef self) se tande stomp geword.  Jy lees egter nooit van enige blaamverskuiwing by Josef nie.  Hy het in dit alles getrou aan die Here gebly en in geregtigheid gelewe.  Die uiteinde was dat hy buitengewoon verhoog was – hy was aangestel as tweede in bevel van Egipte.

Christus se vleeswording en sterwe het gepaard gegaan met groot stryd en lyding, maar in dit alles het Hy getrou en gehoorsaam aan sy Vader gebly:

Daarom het God Hom uitermate verhoog en ’n naam bo elke naam gegee.

Filippense 2:9

As jy getrou die Here bly dien ten spyte van stryd en lyding, sal jy ook saam met Christus verhoog word.  Dit sal in die ewigheid gebeur, maar dit kan ook hier op aarde gebeur, soos met Josef.  Verwag dit in geloof.

Met ander woorde, in dit alles kan stryd, lyding en pyn in jou as gelowige ’n dienskneg word waardeur jy gelouter, geheilig en in jou gees onoorwinlik gemaak word, en buitengewoon verhoog word.  Jy kom ook al hoe meer agter dat jou stryd nie werklik teen vlees en bloed is nie, maar teen die Bose, dit is ’n geestelike stryd.  En juis daarom is jy meer as ’n oorwinnaar deur Christus wat jou die krag gee. 

Jy is bewus daarvan dat dit net ’n onnosele bevelvoerder is wat sy troepe in ’n stryd instuur wat hulle nie kan oorwin nie.  Die Here is nie so ’n bevelvoerder nie.

God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. 

1 Korintiërs 10:13

As God vir ons is, wie kan teen ons wees? 

Romeine 8:31

Na alles gesê en gedaan, die finale oorwinning is nie soseer wat in hierdie wêreld gebeur nie, maar is opgesluit in die vraag: 

Wie gaan die laaste woord spreek?

Wie gaan in die hemel, en wie gaan in die verderf beland?

Dit is Christus wat die laaste woord sal spreek, ’n woord van ewige oorwinning, maar dit word grootliks bepaal deur wat jy met jou swaar en stryd en pyn gemaak het.

Slot

Jou storie kan nooit wees:  Die Vaders het groen druiwe geëet, en nou is die kinders se tande stomp nie. 

Nee, jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag gee – ook om oorwinnaar te wees!

As jy sukkel om koers te kry in jou lyding en pyn, bid vir leiding.  Wees sensitief vir die Here se stem. 

Soms wil die Here jou deur ’n ander help – praat met ’n geestelike mens.  Die Here het ons vir mekaar gegee om mekaar by te staan en op te bou.  Daar is geen rede waarom jy onder moet gaan in jou nood nie! 

Die volgende getuienis was vir my baie kosbaar:

Jerry Sandige was ’n pastoor van die Assemblies of God in Noord Amerika.

Getroud, met ’n jong tiener seun.  Hy was ook ’n dosent in Teologie, en sekretaris van die Internasionale Dialoog tussen die Rooms Katolieke Kerk en die Klassieke Pinkster Beweging.  Dit is ’n dialoog wat reeds baie lank op ’n jaarlikse basis, hoofsaaklik in Europa plaasvind.  Dit was by hierdie dialoog wat ek Jerry ontmoet het. ’n Baie skrander, maar ook beskeie teoloog. 

Na ’n aantal jare wat Jerry as sekretaris gedien het, het hy ons by een van die dialoë vertel dat hy kanker opgedoen het, bo aan die binnekant van sy neus.  Die dokters kon nie veel vir hom doen nie.  Bestraling sou blindheid veroorsaak, en chemoterapie sou nie veel help nie.

Die probleem was dat die kanker versprei het na die voorkant van sy brein. Dit het geweldige hoofpyne veroorsaak.  Hy kon later nie meer pynstillers drink nie omdat dit sy maagwand erg beskadig het.  Inspuitings het later ook nie meer gehelp nie, en die man was dag en nag in pyn. 

Dit het vir meer as ’n jaar so aangegaan, en tog het hy sy verpligtinge steeds nagekom, hy het eenmaal agter die kansel sy bewussyn verloor van pyn. Die laaste dialoog wat hy bygewoon het, het hy vir ons duidelik laat verstaan dat dit die laaste sou wees, en dat hy sou sterwe voor die volgende jaar se byeenkoms.

Ek het na hom gegaan en gevra dat hy voor sy sterwe, iets moet skryf oor die sin en betekenis van lyding en pyn in ‘n Christen se lewe.  Hy het dit gedoen en die artikel aan my gestuur. 

Hy het sy artikel afgesluit met hierdie woorde: 

’n Oester is ’n klein skulpvis wat jy dikwels op die seebodem vind.  Soms gebeur dit dat deur die deining van die see ’n sandkorreltjie tussen die twee skulpe van die oester ingaan.  Hierdie sandkorreltjie is ’n geweldige irritasie op die sagte en delikate vleis van die oester. 

Die oester het egter geen meganisme om die sandkorrel uit te spoeg nie, sy enigste verweer is om ’n vloeistof af te skei wat om die korreltjie vorm om so die irritasie teë te werk.  Hierdie vloeistof staan bekend as “mother of pearl” – en dit is hoe ’n pragtige seepêrel gevorm word.

My kanker, sê Jerry, was soos daardie sandkorreltjie in die oester.  Dit was ’n geweldige vorm van irritasie en pyn.  Ek het geen meganisme gehad om daarvan ontslae te raak nie, en die Here het my ook nie gesond gemaak nie. Tog was die Here deur sy Gees altyd by my.  Die Heilige Gees was soos daardie “mother of pearl” wat deur hierdie kanker, van my ’n pêrel vir God gemaak het. 

Dit het aan my lewe dimensies van skoonheid gegee wat ek andersins nooit sou geken het nie.  My vrou en kind was vir my kosbaarder as ooit, daar was nie tyd vir kleinlikhede, selfsug of  kwade gevoelens nie.  Die lewe was te mooi en te waardevol! 

Selfs die natuur, die wolkestellasies en sonsondergang was vir my mooier as ooit.  My vriende was vir my kosbare mense, wat ek baie waardeer het. My lewe was gerig op God – die skoonheid van sy handewerk en die wonder van saligheid.  Ek dank God dat my  kanker nie tevergeefs was nie! 

Mag jy ook in tye van nood en pyn, hierdie God van die evangelie ontdek, en mag jy soos Jerry, die nodige insig en wysheid bekom om dit in Christus te verwerk. Mag jy gevorm word tot ’n pragtige en vleklose pêrel, tot voordeel van jouself en tot verheerliking van God.  Esegiël is baie duidelik daaroor.  Daar is geen rede waarom jy innerlik moet sterwe nie.  Bekeer jou tot God en sy beginsels, en jy sal lewe!