
2 Korintiërs 8:1-5
Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het.
Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm [die woord wat Paulus gebruik, is “diep arm”], was hulle ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid.
Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra.
Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea.
Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.
1 Die konteks van die gemeente as agtergrond
Dit is nodig om te weet wie die gemeentes in Masedonië was en om te verstaan waarvandaan hulle gekom het ten einde hierdie gedeelte in die Bybel te verstaan. Die gemeentes in Masedonië was ’n klompie gemeentes in Europa; gemeentes uit ’n heidense agtergrond. Paulus het in vyf verse vir ons iets vertel van hierdie gemeentes wat uit die heidendom tot geloof in Jesus Christus gekom het. Hulle ontstaan was nie vanselfsprekend nie, hulle het nie sonder stampe en stote begin nie. Ons lees dat hierdie gemeentes bydraes aan die Joodse gemeentes in Jerusalem en Judea gegee het. Bloot hierdie feit spreek alreeds boekdele as jy dit in die lig van hulle geskiedenis verstaan.
Ons weet dat die eerste volgelinge van Jesus, die Christene, hulle oorsprong in Jerusalem gehad het. Daar was ’n lekker samehorigheid onder die eerste gemeentelede. Hulle het al hulle goed gemeenskaplik besit. Daar was nie arm en ryk nie, hulle het alles gedeel en dit moes wonderlike tye gewees het. Elke dag het God by die gemeente gevoeg die wat gered is.
Kort voor lank lees ons van die begin van die vervolging waartydens Stefanus doodgemaak is. Hierdie gebeure het ontvlam en ’n grootskaalse vervolging van die Christene het losgebars. Keiser Herodes het gesien dat die Jode van hierdie vervolging hou en het toe ook vir Jakobus, die broer van Johannes laat doodmaak. Dit het tot gevolg gehad dat die nuwe Christene uit Jerusalem moes vlug, soms op die rug van ’n donkie en in die nag. Die vroeë kerk se aanvang was in Jerusalem, by hierdie mense.
In hierdie vlug het hulle noordwaarts gegaan en by Antiochië aangekom. In Handelinge lees ons dat toe hulle in Antiochië aangekom het hulle eers die Evangelie net aan Jode verkondig het. Met die latere aankoms van twee manne van Griekse agtergrond in Antiochië het hulle ook vir die heidene begin preek. So het die heidene in Antiochië tot bekering begin kom.
U sal onthou dat die Here vir Petrus laat droom het van die laken met die onrein diere wat uit die hemel neergedaal het, om so vir Petrus te oortuig om ook aan Cornelius en sy huis die evangelie te verkondig. By die aanhoor hiervan, was die Jerusalem-gemeente egter baie ongelukkig en wou by Petrus weet hoe dit dan is dat hy saam met heidene eet, waarna Petrus sy optrede aan hulle verduidelik het.
Die gesig wat Petrus gesien het, en die gebeure met Cornelius, was God se wyse om die evangelie by die heidene uit te bring. Maar dit lyk egter nie of Petrus werklik hierdie sprong kon maak nie. Want toe die heidene later in Antiochië tot bekering gekom het, het die Jerusalem-gemeente vir Barnabas gestuur om te gaan uitvind wat daar aan die gang is. Daar is egter ’n kriptiese opmerking in Handelinge, naamlik dat Barnabas vol van die Heilige Gees was.
Met sy aankoms in Antiochië was hy baie bly om te sien wat die Here daar doen. Hy het toe wys opgetree, hy het vir Paulus wat in Tarsus gewoon het, gaan haal. Hy het nou ’n bekeerde vriend by hom gehad wat hierdie Hellenistiese wêreld geken het. Die twee van hulle het in Antiochië geleer en onderrig gegee.
Op ’n dag het die Gees van die Here oor die Antiochië-gemeente gekom en dit was toe dat die Here hulle dit op die hart gedruk het om vir Paulus en Barnabas af te sonder en op hulle eerste sendingreis te stuur. Paulus en Barnabas was nie gestuur deur die gemeente in Jerusalem nie, maar deur die nuwe gemeente in die heidense wêreld van Antiochië. Die verspreiding van die evangelie aan die heidene het dus nie uit die bakermat van Jerusalem se gemeente gekom nie.
Paulus en Barnabas het op hulle eerste sendingreis vertrek en met hulle terugkoms in Antiochië het hulle aan die gemeente verslag gedoen. Die gemeente in Jerusalem het hiervan gehoor en hulle laat weet dat die mense wat uit die heidendom tot bekering gekom het, besny moes word en die Sabbat asook die wet van Moses moes onderhou. Onmiddellik was daar beperkings op die gemeente geplaas wat nie gestrook het met redding alleen deur geloof in Jesus Christus nie.
Vir die gemeentes in Jerusalem was dit moeilik om te aanvaar dat Paulus-hulle weggebreek het en saligheid slegs deur geloof in Jesus Christus aan die heidene te verkondig. Dit wil voorkom of die Jerusalem-gemeente beheer was deur Fariseërs en Jode wat gelowig geword het maar steeds aan die besnydenis en onderhouding van die wet vasgehou het. Dit was ’n poging om die verkondiging van die wonder van redding deur die genade van God in Christus in ’n groot wye wêreld buite Israel te kaap vir ’n aanhangsel tot die Joodse geloof.
Die gemeente van Antiochiëhet vir Paulus en Barnabas na Jerusalem gestuur om die saak daar te gaan verdedig. By daardie geleentheidd vind ons die Handelinge 15-vergadering waar daar besluit was dat die nuwe bekeerlinge aanvaar word en nie besny hoef te word nie.
Die kerk in Jerusalem se doel was nie eintlik om die evangelie aan die heidene in Masedonië te verkondig nie. God het op sy eie wonderlike wyse en insprake gesorg dat die gemeentes in Masedonië tot stand gekom het, ondanks die tekort aan begrip van die eerste Christene.
Na hierdie gebeure kry ons vir Paulus en Silas wat verder wil reis om die Evangelie te verkondig. Hulle is egter telkens deur die Heilige Gees verhinder, totdat ‘n man van Masedonië een nag in ’n droom aan Paulus verskyn het en hom gesmeek het om daarheen te kom. Hulle het dit aanvaar as komende van die Here en het die volgende dag vertrek.
Die eerste plek in Masedonië waar Paulus aangekom het, was Filippi. Die Filippi-gemeente was as’t ware in ’n tronk gebore toe die bewaarder en sy huis tot bekering gekom het nadat Paulus en Silas geslaan was en laatnag in die tronk lofliedere gesing het.
Wat waar was van die gemeentes van Masedonië, was dat daar ‘n duidelike stuk ingrype van God in hulle ontstaan was. ’n Ingrype wat hulle onafhanklik gemaak het van beperkende kerklike strukture van mense wat gesukkel het om God se plan te verstaan. Daar was ’n deurbraak van God se plan om die evangelie van Jesus Christus ook na Europa en daarlangs tot die hele wêreld te bring.
Na sy eerste sendingreis het Paulus kom rapporteer oor die gebeure wat onder die heidene plaasgevind het, maar hierdie keer het hy in sy brief aan Korintiërs in vyf verse kripties vertel van die gemeentes in Masedonië, ons teksverse.
As mens die agtergrond verstaan, dan voel dit of jy op heilige grond staan, van God wat deurbreek sodat ek en jy vandag die goeie nuus van Jesus kan hoor. Byna het die Christene in Jerusalem die boodskap van die evangelie gekaap tot ’n evangelie wat nie sondaars met God kan versoen sonder Joodse wetsonderhouding nie (Rom 10). Ons lees van dieselfde stryd in die Galasiërsbrief wanneer Paulus skryf: “… al was hulle (die kerkhoofde in Jerusalem) pilare in die gemeente … aan hulle eise het ons egter nie ’n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word.” (Gal 2: 5).
Paulus sê in ons teksgedeelte twee dinge rakende die gemeentes in Masedonië:
Eerstens dat hulle baie verdrukking ervaar het. Die Griekse woord wat hy gebruik beteken “om in ’n noute te sit”. Hulle was in ’n drukgang, of word vasgekeer in benoudheid en verdrukking. Dit is dieselfde woord wat Jesus gebruik in Matteus 24 om te vertel dat daar in die laaste dae ’n verdrukking sal kom soos daar van die begin van die wêreld nog nooit was nie en nooit weer sal wees nie. As God nie hierdie verdrukking verkort nie sal mense dit nie oorleef nie. Die gemeentes in Masedonië het hierdie soort verdrukking beleef.
Tweedens skryf hy van hulle armoede. Die woord wat hy gebruik, is “diep” arm. Nida het in sy boek “Message and Missions” geskryf dat alle herlewingsbewegings by die armes begin het. Dit is die mense wat nood het wat meer ontvanklik vir God is.
Die gemeentes in Masedonië was baie arm en het groot verdrukking ervaar. As jy dink aan hierdie nuwe gemeentes met hulle min agtergrond van die evangelie en van God, nuwelinge wat uit die heidendom kom, dan sal jy wil sê “Here God, ’n mens mag nie met ’n klein boompie so maak nie. ’n Klein boompie beskerm jy, jy moet die nuweling vrywaar van sulke groot verdrukking en uitdagings sodat hulle net eers sterk kan word.”
Wat ek wil hê u moet verstaan is dat hierdie situasie eie aan die Bybel se waarheid is. Ons hele boek is vol soortgelyke stories; jy het ’n Abraham-storie, jy het ’n Josef-storie in die tronk, jy het Moses wat op ’n dag sê: Here God vermoor my eerder want dit is nie billik dat U my so laat leef nie. Jy het ’n Dawid wat vlug, jy het ’n Daniel-storie, dit is die verhale van God se volk. Inderdaad is die hele Bybel vol van dié waarheid. As jy intrap in die nuwe Testament is dit dieselfde waarheid. Wanneer jy die boek 2 Korintiërs vinnig lees dan lyk dit soos ’n Job-boek. Dit is die man wat die slae kry, die man wat gebreek word soos ’n kleipot, die man wat elke dag gedood word, wat honger is en naak is, wat koud kry. Die boek is vol daarvan. Paulus skryf daarvan, Jakobus en Petrus skryf daarvan en Jesus worstel daarmee met trane en harde geroep, dit was die brood en botter van Jesus se lewe.
2 Habitat vir God se handelinge
Die waarheid is dat hierdie storie van verdrukking en groot armoede, die HABITAT van God se mense is. Jy kan dit nie wegwens nie. Dit het niks met fatalisme te doen nie. Ons praat soms van ’n fatalis as ‘n “smartvraat”. God se mense was nie uit eie keuse Trans-Tuber-mense, mense wat in die stinkende moeraskant van Rome woon omdat hulle daar wou woon nie.
Hierdie omstandighede is habitat vir God se mense vir ten miste twee redes: eerstens vir geloofsgroei en tweedens om gehoorsaamheid te leer. Dit gaan enkel en alleen oor hierdie twee sake.
Paulus skryf in 2 Korintiërs 1 dat hierdie dinge met my gebeur het sodat ek nie op myself sou vertrou nie maar dat ek kan glo in God wat mag het om uit die dood uit op te wek. In Hebreërs 11 lees ons van al die geloofshelde en word spesifiek in vers 6 gesê: “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil.” Ons lees van Jesus dat hy aan al die versoekinge, net soos ons, onderwerp was en dat hy geskree het en met trane tot God geroep het. Hy het tot eerbiedige gehoorsaamheid gekom deur wat Hy gely het – al was Hy God se seun. Daar is nie iets anders nie. Dit is die Bybel se woonplek van God se mense. Dit is nie fatalisme nie, dit is eerder die plek waar die vonke spat, die plek waar die beitel die klip kloof! Dit is die plek waar God in sy liefde aktief betrokke en werksaam is! Dit is God se koms na ons wat in sy Seun gestalte vind om vir jou en my ’n egtheid en ’n kwaliteit te bring wat vir ewig is.
Al was hulle in hulle kinderskoene, kon Masedonië hierdie waarheid nooit ontsnap nie. Dit is waarom Paulus in sy briewe ons teenspoed en swaarkry, “Christus-lyding” noem. Hulle moes hom nie pla nie omdat hy aan sy lyf die littekens van Christus gedra het en hy voltooi wat aan Christus se lyding ontbreek. Die habitat van God se wêreld vir ons is dikwels nooit iets anders as juis dít nie.
Een van die groot vloeke wat die Pinksterwêreld getref het, was toe ons geleer was van voorspoedteologie “prosperity”. Hierdie denkwyse het ons uit God se denkraamwerk verwyder en ons uit God se handelinge gehaal. Paulus skryf: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.” (2 Kor 4:10).
Maar daar is iets anders wat die verse wil sê. Paulus gebruik oortreffendetrap-woorde om hierdie waarheid uit te lig, die waarheid wat van ons plusmense maak.
3 Hulle word oortreffendetrap-mense
Hoor wat sê Paulus oor die gemeentes in Masedonië: “hulle blydskap is oorvloedig” en hulle vrygewigheid is “oorvloedig”. Bakster praat van “super abundant”. Die mense van wie hierbo geskryf word, is mense wat “super abundantly” bly en vrygewig was!
Hy omskryf dit wanneer hy sê daar is goed wat jy van mense kan verwag wat binne hulle vermoë is maar hierdie mense in Masedonië presteer bo hulle vermoë, bo wat jy van hulle kan verwag.
Jy moet Paulinies dink, hy is immers die man wat deur al die tronke was en wat gesing het terwyl hy in boeie was en sy lyf stukkend geslaan was. So ’n man sou bepaalde verwagings van gemeentes gekoester het wat hy gestig het – en tog het hierdie gemeentes sy stoutste verwagtinge oortref.
Dis hoekom ek hulle “plusmense” noem, hulle presteer in die oortreffende trap. ’n Persoonlike brief wat Paulus aan een van hierdie gemeentes geskryf het, is die Filippense-brief waarin hy by herhaling sê “verbly jou in die Here ek herhaal verbly jou in die Here, (4:4) ek word nie moeg om vir jou te sê nie verbly jou in die Here.” (3:1)
Paulus se modus operandi tydens sy sendingreise, wanneer hy ’n nuwe plek, soos onder andere Masedonië besoek het, was om die aanbiddingsplek te soek waar die klompie Jode wat in die dorp gewoon het, op die Sabbat bymekaar gekom het. Dan was hy op die Sabbat daar. Nie omdat hy die Sabat hou nie, maar hy het die geleentheid gebruik om hulle van die evangelie van Jesus te vertel. Wanneer die Jode vir hom kwaad geword het, het hy daarvandaan met die evangelie na die heidene gegaan. Dikwels het die Jode ’n opstand veroorsaak en dan moes hy na die volgende dorp vlug. Nogtans het hy vir hulle geskryf om hulle te verbly in Jesus Christus. Hy wou hê dat God se heerlikheid so by hulle moes wees dat hulle altyd blymoedig en vrygewig moes wees.
Die gemeentes in Masedonië het toe hierdie kwaliteite gehad!
Die sentrale saak wat in die hart van hierdie verse lê, is die genade van God.
4 Genade van God
Wat Paulus inderdaad in hierdie paar verse skryf, is dat hy hulle wil vertel wat die genade van God in die gemeentes in Masedonië tot stand gebring het.
Om te verstaan wat Paulus bedoel met die “genade van God” moet ons kyk wat hy daaroor skryf. In sy brief aan Filippi, sluit hy af met “mag die genade van die Here met jou gees wees.” Ons vertaling lees “met jou wees”, maar Paulus het geskryf “met jou gees wees”. Vir Paulus was genade van God, geleë in die persoon Jesus Christus. Hy het by Johannes aangesluit wat geskryf het dat ons ’n wet by Moses gekry het, maar Hy wat uit die boesem van sy Vader kom, uit Hom het ons genade op genade ontvang. Vir Paulus was genade, Jesus Christus self. Wanneer hy in die Filippense-brief skryf: Mag die genade van die Here met jou gees wees dan sê hy inderdaad: Mag Jesus Christus die opgestane Here deur die Heilige Gees in jou gees wees!
Hy het geglo dat die opgestane Christus deur die Heilige Gees tot binne-in ons gebring word, soos Jesus met reg belowe het. Sy briewe se slot was iets soos dit: “Cheers my vriende – mag Jesus Christus die opgestaande Here deur sy Gees in julle wees!”
In 2 Kor 12:7-9 sê hy dat daar ’n boodskapper van Satan gegee was om hom met vuishoue te slaan. Normaalweg sou hy en die Here hierdie Duiwel verdryf het, maar hy skryf dat God vir hom gesê het: “My genade is vir jou genoeg”. Daarom roem hy in sy swakheid want as hy swak is dan woon die genade van God in hom. Hy verander hier ’genade’ na: “Dan woon die krag van God in my.”
Die genade van God was vir Paulus, Jesus Christus die opgestane Christus wat deur die Heilige Gees met sy krag permanent in ons kom. Dit was hoe hulle gedink het, dit was hoe hulle geleef het – met die opgestane Christus binne en oor hulle. God het iets vir hierdie mense gedoen en dit is waarom hulle “plusmense” kon wees; alles die genade van God in Jesus Christus.
Hy het aan die gemeente in Filippi geskryf: “Sy genade het gegee dat julle nie net die voorreg het om hom te dien nie maar ook om vir Hom te ly.” Voordat die “ly” jou pla, weet dat dit die plek is waar die beitel van God se genade die rots tref en die vonke spat – ons word God se mense in murg en in been.
5 Die gemeentes van Masedonië gee hulleself aan God oor
Hy het geskryf dat die gemeentes in Masedonië hulleself gegee het; eerstens aan God en toe aan ons. ’n Christen gee altyd twee keer, maar jy gee altyd eerste jouself aan God en dan eers volg die tweede gee, vir God se mense en vir sy saak.
Die gemeente het gegee. Die kruks van hierdie vyf verse lê hierin, hulle het “gegee”. Ek gaan na drie gedeeltes in die Bybel kyk, om dié “gee” wat deur God se genade gewerk word, te verstaan.
i) Vir Paulus was die kern/hart van ’n Christen se verhouding met God: “Gee julleself aan God as lewende heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” (Romeine 12:1). Hy noem twee feite wat ons motiveer sodat ons ons lewens as ‘n heilige offer aan God gee.
Die eerste vind ons in Paulus se aanloop tot hierdie vers. Hy skryf in Romeine 11 vanaf vers 13 die mees indrukwekkende doksologie oor God se grootheid: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God…” Dan gesels hy oor God; geen mens het hom ooit raad gegee nie, geen mens kan hom verstaan nie, uit hom, deur hom en tot hom is alle dinge.
Hy volg aan die begin van hoofstuk 12 op met God se groot ontferminge. Hiermee verwys hy na wat God in Jesus Christus vir ons gedoen het. Dan volg: “Gee julleself aan God”. Dié gee, is gebou op twee redes: eerstens op die grootheid van die Enige God en tweedens op sy groot liefde in Jesus Christus. Paulus het verstaan dat ons onsself nie aan God kan gee voordat ons nie gehoor het van die grootheid en almag van God en van Sy groot liefde nie.
Die Bybel kom altyd so na ons wanneer God wil sê dat ons nie moet bang wees nie. Dit begin met: “So sê die Here die Almagtige God, moet nie bang wees nie ek is met jou.” Eers wanneer jou gees in verwondering is oor God, dan eers kan jy jouself gee! Jy moet sy oneindige almag en grenslose liefde verstaan – dan kan jy gee. Wanneer jy jouself gee, dit is dan wanneer Hy jou denke verander sodat jy Sy wil kan verstaan, dié verstaan wat andersins totaal bo jou vermoë is.
ii) Die tweede gedeelte van die Bybel waarna ek wil kyk, is die gedeeltes wat gaan oor die vermeerdering van die brood. Kom ons sê die woord “gee” van Romeine 12:1 is dieselfde woord wat gebruik word nadat Jesus oor die vyf broodjies en twee vissies gebid het, dit gebreek het en dan “gee” die dissipels dit aan die skare. Die verhaal wil metafories vertel van ek en jy wat ons brood en vissies vir God gee. Hy gee dit weer aan die honger mense van hierdie wêreld.
Jy moet onthou dat Jesus aan die begin aan sy dissipels gesê het dat hulle iets aan die skare moes gee om te eet. Al wat die dissipels bymekaar kon maak was die vyf broodjies en twee vissies van die seuntjie. Dit is interessant wanneer ons in Johannes van die gebeure lees. Daar verneem ons dat Jesus sy dissipels getoets het, want hy het reeds geweet van die broodjies en vissies wat Hy sou vermeerder.
Wanneer ons dit verstaan dan weet ons wat eintlik bedoel word met gee: Wat ek besit om te gee is wat Jesus reeds aan my gegee het, dan vat ek die bietjie wat ek het, my “vissies en broodjies” en ek plaas dit in God se mandjie. Dit gaan dan deur Sy hande waar dit vermeerder sodat dit die skare kan voed. Die broodjies en vissies wat daardie dag vermeerder is, het God eintlik self vooraf gereël. Hy het geweet, sê Johannes, van die seuntjie se vissies en brood. Ons het inderdaad niks vanuit onsself om te gee nie.
Ons mag dink die opdrag om te gee, kom van ’n wrede God wat ons soos ’n kind in die hoek laat sit en dan ons speelgoed van ons roof. Dis nie God wat roof nie dit is eintlik God wat die vis en brood klaar gegee het. Hy wil maar net hê ons moet dit in geloof deur Sy hande laat gaan, sodat hy dit kan seën en breek en die skare voed. Ons word deel van die wonder van die koms van God se koninkryk in hierdie wêreld.
Dieselfde beginsel kry ons ook in Jesus se hoëpriesterlike gebed. Hoor wat bid Hy: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid … en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees” (Joh 17:17,19).
Die agent vir die werkwoord, is God die Vader. God die Vader moet ons help om ons aan Hom te gee deur sy waarheid en sy woord. Dit is ’n versoek van Jesus aan sy pa, dat sy Pa ons sal vat of so maak dat ons, onsself aan Hom kan gee. Dan onmiddellik sê Hy: “ … en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”(v 19).
Eenvoudig gestel beteken dit iets soos volg: God klim eers in my mandjie, God die Vader en die Seun klim eers deur sy groot genade in my mandjie. En omdat ek Hom in my mandjie ontdek en in verwondering is oor Hom, klim ek in sy mandjie. Hierdie géé het niks te doen met iets waaraan God behoefte het nie.
iii) In hoofstuk 9 van 2 Korintiërs skryf hy dieselfde. In my eie woorde: God is by magte om julle ryk genoeg te maak sodat julle altyd vir almal kan gee. By die ontvangers veroorsaak dit oorvloedige dank aan God. Die God wat by magte is om dit te doen, verskaf aan ons die saad maar dit is ook Hy wat dit laat groei. Hy sit van begin tot einde die goed in jou mandjie. Hy gee nie alleen die saad nie, Hy is die Skepper wat ook laat groei sodat ons brood op ons tafels kan hê. Dit is dan wanneer ons met blymoedigheid kan gee sodat die wêreld kan bly wees en God verheerlik.
Ten slotte
Hierdie vyf verse oor die gemeentes in Masedonië is vol verwondering oor God. Verwondering oor God se grootheid en liefde in Jesus Christus. Daar is verwondering vir God se nabyheid dat Hy deel van swaarkry-mense se lewens word, en hulle lewens baie mooi maak, mense in die oorteffende trap maak.
Hierdie soort mense is nie moontlik as hulle nie glo in God se Almag en liefde nie. Die wonder is dat Hy hulle mense gemaak het wat hulle aan Hom en sy saak gegee het, wat nie vasgesteek het in hulle erge armoede en verdrukking nie.
Die Masedoniese gemeentes was in totaliteit ’n produk van God se genade in Jesus Christus. Baie was Trans-Tuber-mense wat niks gehad het om aan vas te hou nie behalwe aan God se groot genade wat hulle pad gekruis het. Dit is die omgewing waar jy net aan God behoort en Jesus vir jou genoegsaam is.
Hoor wat sê Paulus, Hulle het hulle self eers aan God gegee en toe het hulle, hulle vir ons gegee. Die seuntjie se bydrae (broodjies en vissies) wat Jesus geseën en gebreek het, was genoeg om 5000 mans (sonder vroue en kinders) te voed en 12 mandjies vol te laat oorbly.
Ek wil julle nog ietsie vertel van die mense wat in Masedonië gebly het, die heidene wat tot bekering gekom het. Dit was die mense wat deur die Jode altyd honde genoem was. Ek wil julle vertel van die dag toe God se klokke vir die “honde” begin lui het.
In die storie, hoe het die heidense vrou, wie se dogter in die mag van die duiwel was en Jesus skynbaar geweier het om te help weer gesê: “ … die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” Jesus het daarop geantwoord: “ … jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” (Mat 15:21-28).
Die gee is eintlik maklik. Ek los al die dinge wat vir my belangrik is, wat ek met my eie krampagtige hande wil vashou, ek los ook my bangheid, my vrees en swaarkry. In ruil daarvoor, waag ek my lewe op die almagtige God wat my grensloos liefhet en die grootste werklikheid in hierdie wêreld is.
So het hierdie gemeentes hulle rol gespeel in die tog van die evangelie van Jesus Christus na Europa en die uiteindes van die aarde. Hulle was die mense wat Paulus met sy begroting van inkomste en uitgawes gehelp het. Jesus het aan sy Vader gesê: “ Soos U my na die wêreld gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.” (Joh 17:18).
Met oënskynlik nietige en “weglaatbare” aksies het die kerk Suid Afrika se landskap verander.
0 Comments
1 Pingback