’n Gewese pastoor het iewers gelees dat ek geskryf het dat ’n mens deur sy gees in hierdie wêreld wen.  Sy het kontak gemaak en gevra waar is ’n mens se gees, is dit in jou hart geleë?

Sy het oor ’n lang tydperk groot traumatiese gebeure beleef.  As moeilikheid oor ’n lang tyd kom en baie ernstig van aard is, dan word God baie ver en klein in jou gemoed.  Moeilikheid daarenteen word groot soos onoorkomlike berge.  Dit is soos die blinde man wie se kierie gebreek het en gesê het: “Nergens meer grond.” 

Ek probeer kortliks antwoord gee.

Ons weet nie waar jou gees regtig geleë is nie.  Veral omdat ons in ’n wêreld leef wat steeds meer ’n sintuiglik-waarneembare wêreld geword het, wat glo dat net wat ons sien, is waar: “sien is glo” en rasionele mense wat glo dat alleen wat ons wetenskaplik kan bewys, is waar.  Die “Bo-wêreld”, God se wêreld, die wêreld van die Gees, het van die toneel verdwyn.  Ons het arm daarin geword, ons het nie in die moderne wêreld meer vensters “boontoe” nie.  En as ons soontoe probeer dink verduister die moderne wêreld se idees, die groot moeilikheid, en ons eie moeilikheid, ons vensters – dit word donker gerook.  Ons is arm en sukkelend in die wêreld van die Gees.

Venster na Bo

Jesus het aan die Samaritaanse vrou by die put gesê: “God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid (Jesus) aanbid.” (Joh 4:24).  Jesus laat die aksent val dat in aanbidding, sal ons kontak met God hoofsaaklik ’n geestelike gebeure wees. 

Nikodemus wat ’n Fariseer en lid van die Joodse Raad was asook ’n duidelike godsdienstige, het in die nag na Jesus gekom.  Aan hom het Jesus gesê:  “Dit verseker Ek jou: “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”  Hy kon nie dink hoe ’n ou man ’n tweede keer gebore kon word nie.  Dit is toe dat Jesus hom antwoord: “Dit verseker Ek jou: ‘As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.’”  Oor sy verbasing het Jesus aan hom verduidelik: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die gees gebore is, is gees.  Die wind waai waar hy wil.  Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.  So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Joh 3: 3-8). 

Ons hart is ’n wonderlike orgaan in ons liggaam, ’n fantastiese pomp wat vir jare dag en nag pomp, maar God se woonplek waar weergeboorte plaasgevind, is nie daar geleë nie.  Ons weet nie waar nie, maar iewers in ons is ons gees; ons is immers na God se beeld en gelykenis geskape en is ook as sy verteenwoordigers geskape.  Ons is meer as vlees en bloed.  

Dit is in ons gees waar God ons verander, dit is daar waar ons eerstens sy teenwoordigheid ervaar, waar weergeboorte en later die doping in die Heilige Gees, plaasvind.  Daar ervaar ons God se werklikheid, sy grenslose (ver bo ons begrip, ons rasionele) krag en sy liefde in ons.  (Sien Paulus se twee gebede in Efesiërs 1 en 3 waarin hy vra wat die Heilige Gees in ons moet werk.)

Dit is vanaf hierdie werkplek van God in ons, wat Hy ons deur die Heilige Gees rig en lei.  Dit is hier waar Hy ons sterk en wys maak, en ons meer as oorwinnaars maak in ’n rowwe wêreld.

Wanneer die gelowige in tale praat terwyl die Gees van die Here oor hom/haar kom, moet hulle hard, en duidelik, en denkend praat.  Hulle moet die gesprek en die inhoud belewend ervaar sodat hulle die inhoud kan verstaan en kan ondervind.  Paulus het geskryf dat hy wat in ’n taal praat homself bou (Sien 1 Kor. 14, 18).  Hulle moet byvoorbeeld die emosies ervaar wat God se grootheid en liefde meebring sodat hulle sterk, vrolik en wys kan word. 

’n Christen wen deur sy gees.

Groetnis

Jan Hattingh