‘n Getuienis:
Ons gesin kom van ’n Gereformeerde agtergrond. Een aand het ons kinders saam met my ma, ’n Pinksterbiduur by ’n Pinkstergemeente bygewoon. Na die preek het die pastoor almal wat graag die doping in die Heilige Gees wou ontvang, vorentoe genooi. Die geleentheid was vir ons vreemd en ons het daarom nie vorentoe gegaan nie.

Tannie Pieta van Rensburg is daardie aand daar voor op die mat, gedoop in die Heilige Gees. Ek het haar later goed leer ken. Die pastoor het aan die einde van die biduur vir my ma gevra om met gebed af te sluit. Die versoek was vir ons vreemd. Ons was nie aan so iets gewoond nie, des te meer vreemd omdat sy met my slapende kleinboet, ’n kleutertjie, op haar skoot in die banke gesit het. Sy het sittende begin bid. Ek weet nie of die versoek van die pastoor gekom het vanweë haar styl van bid of bloot omdat dit die Heilige Gees se leiding was nie. Later sou ons leer dat die Pinkster-mense dinge ietwat anders doen as waaraan ons gewoond was.
Terwyl sy gebid het, het hy en ’n ouderling na haar gestap. Hy het die baba van haar skoot opgetel en aan die ouderling gegee waarna hy sy hand op haar kop gesit en gebid het: “Here, doop dié vrou in U Gees.”
My ma is net daar gedoop in die Heilige Gees en het in vreemde tale gepraat, soortgelyk aan die Handelinge 2 gebeure. By ons huis het sy in tale bly praat totdat my pa laat daardie aand by die huis aangekom het. Hy het sy vrou al pratende in tale gevind. Dit was vir hom ’n verrassing en hy het geen idée gehad hoe om die situasie te hanteer nie.
Die volgende oggend met koffietyd het my ma steeds in tale gepraat en dit het vir ’n paar dae voortgegaan. Dit het gelyk of enige goeie nuus die gebeure opnuut “trigger” en dan begin sy weer in tale praat. Haar ervaring was dat God baie kennelik in haar was, maar ook dat die wêreld vol van sy teenwoordigheid is.
Die ondervinding van die doop in die Heilige Gees en die kragtige gevolge daarvan, het haar lewe gekenmerk tot die dag van haar dood, op 93 jarige ouderdom. My pa wat onder moeiliker omstandighede as sy grootgeword het, het vir baie jare, jare wat groot uitdagings aan hom gestel het, sonder hierdie ervaring van die doping in die Heilige Gees gegaan. Ek het dit waargeneem en was baie jammer vir hom.
Swaarkry maak dit moeilik om so ’n wonderlike geskenk soos die Heilige Gees van God te ontvang. So ’n persoon worstel altyd met die ervaring dat hy nie goed genoeg is nie. Hy voel hy verdien dit nie en as hy dit sou waag om dit te ontvang, ervaar hy die vrees dat hy dit self sou opmaak en dat dit daarom vals sal wees. Gewoonlik sou hy sê dat hy ’n egte ervaring soek. Ongeloof en twyfel blokkeer ’n vreugdevolle ontvangs van die belofte van die Gees uit die hand van Jesus, wat self die Doper in die Gees is.
My pa is uiteindelik later gedoop in die Gees, waarvoor ek God dank. Met sy dood het ek hom in my arms vasgehou terwyl ek saggies in tale gepraat het. Dit was toe dat hy sy laaste asem uitgeblaas het en na die ewige verhuis het. Dit was ’n grootse oomblik in my lewe.
Die Evangelies vertel dat Johannes die Doper mense in water gedoop het, maar Jesus word aan ons voorgestel as die Doper in die Heilige Gees. Petrus het op Pinksterdag gepreek: “Dan sal God julle die sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Hand 2:38,39).
Mag jy die wonder van die doop in die Heilige Gees beleef en die impak daarvan op jou lewe op ’n voortgesette wyse nuut ontdek.
Prof Jan
Dankie dat prof steeds skryf en prof se staaltjies wat so kragtig is deel. Terwyl ek die lees kan ek hoor hoe prof dit vertel. Prof se stem sal nooit stil wees in my kop en hart nie, wat ek geleer het strek verder as die fisiese. Dankie Prof.
Groete
Petricia Pieterse
Petricia, baie dankie.
Ek voel steeds soos iemand wat oor die drumpel strompel om die wonder van die Heilige Gees te verstaan. Dit was lekker om van jou te hoor.
Groetnis en baie seën.