Herlewing onder kinders in die vroeë dae van Pinkster in Suid-Afrika

Hier is vir u ‘n beskrywing van die herlewing wat onder kinders in die vroeë dae van Pinkster in Suid Afrika plaasgevind het (Al bruis die Jordaan, 1969. J.C. de Ferrieres – Tant Sannie). (You can also read this essay in English.)

Sonskynhoekie diens

“In 1940 het die Uitvoerende Raad van my kerk die eerste nasionale Paaskonferensie op ‘n plaas in Emmarentia (nou ‘n voorstad van Johannesburg) gehou.  Ek is gevra om verantwoordelikheid te neem vir die dienste wat twee keer per dag vir die kinders gehou sou word. Hierdie dienste is gehou terwyl die ouers die konferensie dienste in ‘n aparte tent wat sitplek vir 4,000 volwassenes gebied het, bygewoon het.

Die kinderskaar het elke dag aangegroei en ons het heelwat ernstige bekerings gehad. Tog was die omstandighede uiters moeilik omdat stadskinders gewoonlik ‘n plaas met ‘n vakansie assosieer.  Dit was duidelik dat hulle met daardie gees besiel was en nie lus was vir te veel kerk nie.

Ek onthou een spesifieke seun, H.  Hy was baie stout, wild, uitdagend met ‘n sterk persoonlikheid en leierskaphoedanigheid.  Dit was vir hom net nodig om een fluit te gee wanneer die kinderdiens moes begin, en hy was weg met al die seuns!  By die ouers kon ek nie hulp soek nie, want hulle was dan reeds in hulle diens.  Ek was magteloos en het na my Meester geroep om hulp.

Dit was die derde aand.  Ek was moeg en hartseer, tog dankbaar vir ‘n paar bekerings.  Terwyl iemand die diens afsluit met ‘n dankgebed, gebeur daar skielik die onverwagte, die hemelse!  Dit was iets soos op die dag van Pinkster in Handelinge 2.  Die Heilige Gees het neergedaal op die ongeveer 250 kinders.  Gelyktydig begin hulle te huil en hulle sondes te bely.  Sommige hardloop vorentoe en gryp my hande, ander val plat op die grond en almal roep uit om genade.

Daar was kinders en jongmense van ongeveer ses tot twintig jaar.  Die wat reeds gered was het die doping in die Heilige Gees ontvang.  Selfs diegene wat daardie aand so ‘n ernstige bekering ondervind het, het onmiddellik ‘n magtige doping in die Gees van God ontvang.  Baie het ure op die vloer gelê, steeds sprekend in ‘n vreemde taal.

Die volwassenes se diens het bietjie laat uitgekom.  Hoe verskrik was die ouers nie toe hulle by hul tente kom en die kinders nog nie daar vind nie.  Almal het vinnig na die kindertent gekom om hulle te soek en wat ‘n toneel het hulle daar begroet!  Die sterke teenwoordigheid van die Heilige Gees het oortuiging van sonde ook in ouerharte verwerk.  Baie van hulle het neergekniel, terwyl hulle ‘n diepe oorgawe aan die Here gemaak het.

Vanaf die volgende dag was die hele atmosfeer verander.  H was ook gered en almal het na die tente gestroom as dit tyd vir die diens was (pp40-42).

Ons het die voorreg gehad om deur die jare ongeveer sewe magtige uitstortings van die Heilige Gees in Sonskynhoekie (die naam van die kindertent wat later vervang is met ‘n kindersaal) te hê (p47).

Die seën van God het nie altyd met groot luidrugtigheid gepaard gegaan nie.  Nee, soms het ons ook diep bekerings in kalmte en stilte gehad.  Een oggend, nog in die tent, het ons die kinderhuise se kinders ook in die diens gehad.  Daar was baie seuntjies en dogtertjies van vyf tot tien jaar in die voorste banke.  Terwyl daar ‘n oomblik stilte was het iemand die koortjie ingesit: “Over and over, like a mighty sea, comes the Love of Jesus, sweeping over me.”

Onverwags het die Gees van God die tent vervul.  Dit was soos ‘n sagte wind. S pontaan het honderde kinders se oë gesluit en het hulle hul arms gevou.  Almal het vir ongeveer 20 minute lank die koortjie saggies oor en oor gesing.  Almal het gelyktydig, soos ‘n ryp koringland, stadig heen en weer gewieg, sonder dat een die ritme gebreek het.  Die getuienisse wat gevolg het, het bewys dat baie siele die oggend in daardie atmosfeer gered en gereinig is.

Die vraag ontstaan miskien in die leser se hart: “Het al die kinderbekerings die toets van die jare deurstaan?”  Ek wil erken dat, soos in enige herlewing of gemeente, al die bekerings nie stand gehou het nie, maar ‘n groot meerderheid het wel.

Dit is nou al amper 30 jaar na die ontstaan van Sonskynhoekie en soos my man en ek vandag deur die land reis is dit merkwaardig om die vrugte te sien.  Ons vind pastore, hulle eggenote, Sondagskoolsuperintendente en kerkraadslede wat daar gered of in die Heilige Gees gedoop is.  Baie van hulle beoefen verskillende professies in die samelewing.  Daar is skaars ‘n gebied in ons land waar daar nie êrens ‘n gewese lid van Sonskynhoekie beweeg nie.  Wat die dierbare maats betref wat die pad byster geraak het, ek bid dat die God van hulle jeug hulle weer genadiglik sal terugbring. (p50)

Past Jean de Ferrier, Tant Sannie en hulle dogter Irene.


Indien u ‘n kind in Sonskynhoekie was sal ons graag van u wil hoor. Skryf asb. u ervaringe hieronder in die kommentaar.

4 Comments

  1. Karine Faurie

    In 1970 I was 6 and Tant Sannie de Ferrier and her husband came to White River where we lived as guest speakers at our tiny AFM church. She wrote a book “Skoner as Pêrels, Witter as Sneeu”
    I just learned to read when they visited and read the book ferociously in the week before they were to take the evening service on that Sunday.
    I remember hanging onto her lips, absorbing every word she spoke and by the time the altar call came all the children went forward. The adults were a bit cautious and “tested” us to see if we really understood. The joy that was around us and in us…… I can still remember that exquisite joy! In the weeks after I kept talking about that and wanted every one I met to come to church with us to experience that too.
    It is 50 years ago.
    The greatest gift ever!

    Thanks for the posting. It blessed me immensly.

  2. Marietjie

    dankie vanoggend so nodig om net die wonder van God se genade en liefde tebeleef. Het RSG se preek geluister en is honger vir nog boodskappe va Prof Kobus.

  3. LouiseOlivier

    Goeiedag.
    Ek wil baie baie graag een van Sannie de Ferriers se Al Bruis Di Jordaan boek bekom. Waar kan ek so een koop.
    Groete.
    LouiseOlivier.

  4. Stephen Bruiners

    I am so interested with the work that God has done among children in those days. We need it today more than ever.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *